Verwoestyning is besig om teen 'n ontstellende tempo in Afrika toe te neem. Die gevolge is gewoonlik 'n afname in die grond se produktiwiteit, 'n daling in voedselproduksie en uiteindelik voedselnood. In hierdie artikel word na die oorsake en gevolge van dié verskynsel gekyk.
Die begrip verwoestyning het al tot groot verwarring gelei en verskeie debatte het al tussen wetenskaplikes oor die gebruik daarvan plaasgevind. Die mees logiese definisie van verwoestyning is dat die grense van die woestyne - droë gebiede waarin min plante voorkom - besig is om uit te skuif.
As 'n mens kyk na die begrip, soos gedefinieer deur die Verenigde Nasies (VN) se Konvensie oor die Bekamping van Verwoestyning, is dit duidelik dat dit beslis nie 'n verskuiwing van sandduine of die voortstuwing van 'n muur van sand impliseer nie. In 1992 het wêreldleiers op die Aardberaad ooreengekom op 'n definisie wat later deur die konvensie aanvaar is. Dit is dat verwoestyning beteken grondagteruitgang in ariede, semi-ariede en sub-humiede gebiede weens 'n verskeidenheid faktore, insluitende die klimaat en verskeie menslike bedrywighede.
Alle lewe op land is afhanklik van die brose grondkors wat die vastelande bedek. Hierdie waardevolle bedekking word pynlik stadig gevorm, maar die mens kan dit skrikwekkend vinnig verwoes. Dit duur gewoonlik eeue om 'n sentimeter grond te vorm. Indien wanbestuur plaasvind, kan dit egter binne 'n enkele seisoen weggewaai of weggespoel word. Die Worldwatch Institute in Amerika het bereken die wêreld verloor jaarliks 24 miljard ton bogrond.
Ongeveer 70 % van die 5,2 miljoen hektaar ariede en semi-ariede gebiede wat wêreldwyd vir landbou gebruik word, is reeds gedegradeer. In Afrika alleen het 73 % van die droëland-ekostelsels (ariede en semi-ariede gebiede) reeds matige tot ernstige verwoestyning ondergaan, terwyl ongeveer 1,4 miljoen hektaar in Asië al verwoestyn het.
Die vraag is of verwoestyning nie slegs 'n probleem van arm mense in ontwikkelende lande is nie. Die antwoord hierop is 'n besliste nee. Ongeveer agttien ontwikkelde lande is reeds besig om onregstreeks die gevolge van verwoestyning te ervaar deurdat daar 'n gedurige migrasie daarheen plaasvind van mense wat nie meer 'n bestaan op hul gedegradeerde grond kan maak nie. Die proses van verwoestyning is dus een van die duidelikste voorbeelde van hoe armoede op een plek voorspoed op 'n ander plek en volhoubaarheid oral kan bedreig. Meer as 110 lande het droëland-ekostelsels wat potensieel in gevaar is. Volgens die VN se Omgewingsprogram kos verwoestyning die wêreld jaarliks sowat R210 mil-jard. Dit kos Afrika meer as R45 miljard per jaar.
Verwoestyning word gewoonlik deur 'n ingewikkelde interaksie van fisiese, biologiese, politieke, kulturele en ekonomiese faktore veroorsaak. Droogte is een van die hoofoorsake van verwoestyning. Dit is dikwels 'n sneller om die proses aan die gang te sit of dit kan die probleem vererger. Met elke droogtesiklus wat in ariede en semi-ariede gebiede ervaar word, vergroot die probleem van droëland-agteruitgang dus. Dit is 'n welbekend dat gedegradeerde kolle tydens 'n droogtesiklus voorkom (dikwels kan dit as 'n "ontploffing" van degradasiekolle beskryf word). Hierdie kolle vergroot en versprei geleidelik en kan later aan mekaar raak.
Verwoestyning word egter nie net deur droogtes veroorsaak nie. Vier menslike bedrywighede is gewoonlik die onmiddellikste oorsaak:
Verwoestyning het talle gevolge. Eerstens verlaag dit die grond se weerstand teen natuurlike klimaatskommelinge. 'n Ekostelsel is nie staties nie, maar dinamies of veerkragtig. Dit impliseer dat 'n ekostelsel normaalweg sal herstel ná 'n klimaatsversteuring, soos 'n droogte of oorbenutting. Indien agteruitgang egter voorkom, word hierdie veerkragtigheid ernstig verswak en is herstel tot die oorspronklike toestand dikwels onmoontlik.
Tweedens word grond minder produktief. Blootgestelde of geërodeerde bogrond kan maklik deur wind weggewaai of tydens reën-buie weggespoel word. Dit lei gewoonlik daartoe dat die grond se fisiese en biochemiese samestelling verander. Hierdie veranderinge het gewoonlik 'n nadelige uitwerking op die grond. As die watertafel styg weens swak dreinering en/of swak besproeiingspraktyke, ontstaan versuiptoestande gewoonlik. Daar vind ook dikwels 'n opbouing van soute plaas. Verhoogde soutkonsentrasies lei gewoonlik tot 'n verhoging in die erosiekwesbaarheid van die grond. Indien grond verder vertrap en verdig word deur vee en wild, verlaag die vermoë om plantegroei en vog te bewaar verder. Dit veroorsaak dat evapotranspirasie toeneem, terwyl waterafloop vanaf die grondoppervlak verder verhoog. Dit is dus 'n bose kringloop wat moeilik gestuit kan word.
Derdens word plantegroei beskadig. Die verlies aan plantbedekking is 'n gevolg én oorsaak van agteruitgang. Los grond kan 'n "sandspuit"-effek op plantegroei hê, terwyl dit die plante ook kan begrawe of die wortels ontbloot. In albei gevalle sal dit verdere plantvrektes veroorsaak, met 'n verdere verlaging in die plantbedekking. Indien die veld deur te veel of die verkeerde soort diere oorbenut word, kan dit gebeur dat smaaklike meerjarige grasse uit die veld verdwyn. Hul plek word gewoonlik deur onsmaaklike meerjarige en/ofeenjarige gras ingeneem.
Verwoestyning het ook 'n invloed op die mense wat buite die geraakte gebied woon. Die verwoestyning van 'n gebied kan daartoe lei dat oorstromings in laerliggende gebiede voorkom, terwyl dit verder 'n verlaging in watergehalte, die sedimentasie van riviere en mere en die toeslikking van reservoirs kan veroorsaak. Stofstorms kan voorkom en lugbesoedeling vererger. Die verhoogde voorkoms van stofdeeltjies in die lug kan siektetoestande laat toeneem, veral asemhalingsiektes en allergieë.
Nog 'n gevolg van verwoestyning is dat voedselproduksie belemmer word. Dit is juis weens die interaksie tussen agteruitgang en voedselproduksie dat verwoestyning een van die belangrikste omgewingskwessies in die wêreld is. Om in die voedselbehoeftes van groeiende bevolkings te voorsien, sal voedselproduksie oor die volgende vyftig jaar drievoudig moet toeneem. Dié doelwit sal uiters moeilik behaal word, selfs in buitengewoon gunstige toestande. Indien verwoestyning nie gestuit en omgekeer word nie, sal voedselproduksie in die geraakte gebiede eerder verder afneem as toeneem.
Wat hierby aansluit, is dat verwoestyning bydrae tot hongersnood, wat gewoonlik in lande voorkom wat onder armoede, burger- en ander oorloë gebuk gaan. Droogte en degradasie dien dikwels as die sneller wat tot 'n krisis lei. Hierdie krisisse word gewoonlik verder deur swak voedselverspreiding vererger.
Die maatskaplike prys van verwoestyning is baie groot. Verwoestyning is gedeeltelik verantwoordelik vir ongeveer tien gewapende konflikte wat tans in ariede gebiede voorkom. Verder word mense dikwels gedwing om na ander lande te migreer weens verwoestyning. Ongeveer 135 mil-joen mense gaan weens verwoestyning van hul grond gedryf word. Verwoestyning kan dus tot 'n totale ineenstorting van alle maatskaplike strukture lei.
Laastens het verwoestyning 'n impak op alle ekonomiese hulpbronne. Dit kos die wêreld jaarliks ongeveer R210 miljard, soos vroeër genoem. Die onregstreekse ekonomiese en maatskaplike prys wat die gebiede buite die geraakte gebied moet betaal weens die instroming van "omgewingsvlugtelinge" en die verlies aan nasionale voedselproduksie kan egter baie groter wees.
31 Maart 2006