Die droë dele van Suider-Afrika kan in werklike woestyne verander omdat die grond weens oppervlakverwarming nie genoeg vog kan opbou om verwoestyning te keer nie. Die tweede artikel in Landbouweekblad se reeks oor verwoestyning handel oor die verband tussen verwoestyning en klimaatsverandering.
Verwoestyning is 'n groot omgewingsprobleem wat meer as honderd lande in ál die bewoonde gebiede op aarde raak. Dit gebeur as produktiewe grond in ariede, semi-ariede en sub-humiede gebiede agteruitgaan weens menslike bedrywighede en deur klimaatsvariasies, soos langdurige droogtes.
Droëland-ekostelsels (ariede en semi-ariede gebiede) beslaan ongeveer 'n derde van die wêreld se landoppervlakte. Ongeveer 'n sesde van die wêreldbevolking woon in hierdie gebiede. Verwoestyning is 'n bykomende omgewingstresfaktor vir die miljoene mense wie se lewensbestaan van hierdie marginale grond afhang.
Verwoestyning dra ook by tot ver-skeie wêreldwye omgewingsprobleme, soos klimaatsveranderinge weens kweekhuisgasse, 'n verlies aan biodiversiteit en die besoedeling van die wêreld se oseane. Klimaatsverandering is stadige neigings of verskuiwings in die klimaat weens natuurlike prosesse of menslike bedrywighede. Hierdie neigings en verskuiwings kom gewoonlik in die tradisionele klimaatspatroon as veranderinge in die reën-val en temperatuur na vore.
Dit is belangrik om tussen klimaatsveranderinge en klimaatsvariasie te on-derskei. Laasgenoemde impliseer dat die gemete waardes van die klimaats-elemente, soos reënval en temperatuur, van die gemiddelde waardes afwyk. Hierdie afwyking kom egter op 'n spesifieke tydstip en plek voor en kan as 'n onwillekeurige afwyking be-skou word. Temperatuurskommelings wat tydens die loop van die dag voorkom, is 'n voorbeeld.
Wanneer wetenskaplikes egter waar-sku dat die oormatige vrystelling van koolstofdioksied en ander kweekhuisgasse 'n wêreldwye verwarming van 1,5 grade C tot 4,5 grade C binne die volgende 100 jaar kan veroorsaak, is klimaatsverandering ter sprake. Uit literatuur is dit duidelik dat verwoes-tyning bydra tot klimaatsverandering op streeks- sowel as wêreldvlak. Die omgekeerde is ook waar.
As na die verwagte klimaatsveranderinge gekyk word (berig op bl. 37), is dit duidelik dat die reënvalpatroon (insluitend die hoeveelheid, duur en intensiteit van die reën) sal verander. Veranderinge in die reënvalpatroon kan veranderinge in die landoppervlak veroorsaak, wat uiteindelik tot veranderinge in die hidrologiese siklus kan lei.
Die volgende veranderinge kan voorkom:
Droëland-ekostelsels kan minder geskik vir gewasverbouing of beweiding word. Hierdie bedrywighede hang grootliks van die hoeveelheid reën en die verspreiding daarvan af. In die veld is die voorkoms van 'n stabiele groep aanvaarbare plante van reën afhanklik. Aanhoudende of meer gereelde droogtes, wat 'n gevolg van onder meer El Niño kan wees, kan daartoe lei dat die plantverskeidenheid ongunstig verander. Indien aanhoudende droogtes voorkom, word die meeste smaaklike plante gewoonlik onder druk geplaas en word saailingvorming tot 'n minimum beperk. Dit sal beslis die dravermoë van die veld verlaag, wat die spesifieke boerderyvertakking ekonomies onstabiel kan maak.
Die oppervlakbedekking kan verander. Só 'n verandering lei dikwels tot veranderinge in die hoeveelheid straling wat vanaf die aardkors na die atmosfeer gereflekteer word. Hierdie aksie veroorsaak uiteindelik dat veranderinge in die energie-uitruiling tussen die aardkors en die atmosfeer plaasvind. Indien die oppervlakbedekking verwoes word (kaal grond), sal die energie-uitstraling na die atmosfeer beslis verhoog. Só kan veranderinge in die oppervlakbedekking tot veranderinge in die atmosferiese energiebalans lei, wat weer 'n invloed op die reënvalpatroon sal hê. In droëland-ekostelsels waar verwoestyning voorkom, is dit onwaarskynlik dat genoeg vogopbouing vir neerslag weens oppervlakverwarming sal plaasvind. Hierdie gebiede sal ál droër word en in werklike woestyne verander.
Gasuitruiling kan verander. Die uitruiling van gas, veral koolstofdioksied en waterstof, tussen die aardkors en die atmosfeer dra tot die vermindering of verhoging van die kweekhuiseffek by. Die teenwoordigheid van plantegroei is van kardinale belang om die hoeveelheid koolstofdioksied en waterstof in die atmosfeer te beheer. Aangesien verwoestyning 'n invloed op die ontwikkeling van plantegroei het, speel dit dus 'n rol in die verandering van die hulpbronne en die opvangpoel van kweekhuisgasse. Dit is hoogs waarskynlik dat die agteruitgang van droëland-ekostelsels die koolstofpoel in 'n gebied sal beperk deurdat die hoeveelheid koolstof wat in die ekostelsel gehou word, sal verminder.
Laasgenoemde vind plaas omdat die koolstofuitstraling styg namate die plante vrek en die grond versteur word. Verwoes-tyning kan ook die uitstraling van ander kweekhuisgasse, soos metaan, beïnvloed. Indien die konsentrasie kweekhuisgasse verhoog, kan 'n mens meer verwarming verwag. Dit sal weer 'n ongunstige invloed op die ontwikkeling van plantegroei hê en dus tot verdere verwoestyning lei.
Grondeienskappe kan verander. Wetenskaplikes verwag dat die frekwensie van droogtesiklusse sal verhoog. Indien dit die geval is, sal dit nog groter druk op die grond en die plantegroei van die droë-land-ekostelsels plaas deurdat die grond sal verwarm en verkrummel. Dit sal dus gestroop lê vir reëndruppels om dit verder op te breek en weg te spoel. In gebiede wat vir weiding gebruik word, kan diere die probleem vererger deur die grond te vertrap. Hierdie vertrapping lei dikwels tot korsvorming en grondverdigting en soms ook tot 'n verlies aan grondvrugbaarheid.
Vertrapping, korsvorming en verdigting kan dus lei tot veranderinge in die grond se fisiese eienskappe, wat die proses van verwoes-tyning kan aanhelp. Sodra die grond se vermoë verminder om vog op te berg, vind veranderinge in die energieverbruik plaas ten opsigte van verdamping en die grond se vermoë om die grondlaag en die lug te verwarm. Veranderinge in die grond se energieverbruik is een van die grootste bydraen-de faktore tot klimaatsverandering.
Wat is die implikasies van bogenoemde op die gebruik en bestuur van hulpbronne?
Vier menslike aktiwiteite is hoofsaaklik vir verwoestyning verantwoordelik, naamlik die oorbenutting van veld deur te veel diere, die oorbenutting van ander plantegroei (ontbossing), swak verbouings-praktyke en die swak bestuur van grond en water in besproeide droëland-ekostelsels. Omdat klimaatsveranderinge die uitwerking van verwoestyning in die ariede en semi-ariede gebiede kan vererger, is dit nodig om weer te kyk na die bestuurspraktyke wat in hierdie gebiede toegepas word.
Die oorbenutting van die weiveld is hoofsaaklik te wyte aan twee faktore, naamlik te veel diere en die toepassing van swak bestuurspraktyke. Sekere kulturele en/of tradisionele oortuigings het egter ook die agteruitgang van grond en plantegroei aangehelp, veral in die kommunale boerderygebiede. Indien klimaatsveranderinge in gebiede voorkom waar die veld reeds oorbenut is, sal dit die agteruitgang verder aanhelp en selfs versnel, wat tot 'n verdere verlaging in die dravermoë sal lei.
Die implementering van gesonde bestuurspraktyke, soos rotasiebeweiding en rus, is daarom van deurslaggewende belang. Hierdie bestuurspraktyke moet ook in die kommunale gebiede toegepas word om 'n grootskaalse ramp af te weer. Verder is dit belangrik om die dravermoë van elke weigebied wetenskaplik te bepaal en gereeld te monitor. Dit sal egter van nul en gener waarde wees indien die dravermoë van 'n gebied bekend is, maar boere nie hul veegetalle daarvolgens aanpas nie.
In die meeste ariede en semi-ariede gebiede gebruik mense plantegroei, veral bome, vir brandhout en bou- en omheiningsmateriaal. Hulle vervang selde die plante wat hulle 'oes'. Die gevolg is dat hulle die grond kaal stroop en dit uiters kwesbaar vir wind- en watererosie laat. Daar moet dringend gekyk word na volhoubare praktyke waar die oes van hout nie die tempo van hergroei oorskry nie.
Swak verbouingspraktyke in droëland-ekostelsels lei gewoonlik tot die uitputting van die natuurlike grondvrugbaarheid, wat weer tot agteruitgang lei. Die agteruitgang van die grond lei tot 'n verlaging in produktiwiteit deurdat die vermoë van die grond verlaag om be-skikbare vog vir die plante op te berg. Verdere gevolge is onder meer 'n verlies aan voedingstowwe asook die afbreking van die grondstruktuur.
In ariede en semi-ariede gebiede kan dit ook gebeur dat die vlakke van gif in die grond toeneem weens laer reënval. Korrekte verbouingspraktyke sluit in die korrekte frekwensie van verbouing en om misstof na gelang van die spesifieke gewas se behoeftes toe te dien. Boere moet besproeiing reg bestuur. Indien besproeide grond se soutinhoud verhoog, kan dit ernstige gevolge vir evapotranspirasie inhou. Daarom moet die boer die evapotranspirasiebehoef-tes van die verskillede soorte plante sorgvuldig vergelyk met die hoeveelheid water wat beskikbaar is alvorens hy 'n besproeiingskedule uitwerk.
Twee verdere faktore wat uiters belangrik in besproeiingsbestuur is, is die frekwensie van besproeiing en die gehalte van die besproeiingswater. Wetenskaplikes kan tans nie die presiese uitwerking van klimaatsverandering op die tempo van verwoestyning (en omgekeerd) bepaal of voorspel nie. Hulle kan wel voorspel dat veranderinge in die temperatuur, verdamping en reënval sal voorkom en dat hierdie veranderinge van streek tot streek sal verskil.
Daarom sal verwoestyning in sekere gebiede erger word, terwyl dit elders sal afneem. Ondanks die onsekerhede, is daar geen twyfel nie dat klimaatsveranderinge in die toekoms 'n uiters belangrike rol gaan speel.
7 April 2006