Landbou
Dié winter nie voorspelbaar
KOBUS BOTHA

Die afgelope winter in die Noordelike Halfrond was besonder lank en koud. In talle gesprekke duik die moontlikheid op dat dieselfde vir Suid-Afrika wag. Dit is egter nie 'n uitgemaakte saak dat dit gaan gebeur nie.

Mense praat elke dag oor die weer. 'n Voorspeller moet derhalwe feitlik elke dag vrae beantwoord soos: Wanneer kom die groot reën? Gaan dit die naweek reën? Gaan ons 'n lang en koue winter hê?

Eintlik is die antwoord hierop eenvoudig: Ek sal dit nooit honderd persent akkuraat kan voorspel nie. Trouens, in die meeste gevalle kan ek dit glad nie voorspel nie.

Korttermyn-voorspelling is nie besonder moeilik nie, veral as 'n duidelike koue front op pad na die Kaap toe is of 'n sterk ontwikkelde stelsel van die trope af suidwaarts beweeg.

Eers 'n opmerking oor langtermyn-weervoorspellings. Dit is uiters moeilik, indien nie heeltemal onmoontlik nie. Dit is my persoonlike mening en ek weet dat baie mense hieroor met my sal verskil. Indien iemand die antwoord het, laat weet my asseblief, ek sal dan baie gou 'n miljoenêr word. Dan kan ek sommer ook voorspel dat die komende winter lank en koud gaan wees.

Daar is wel baie aspekte wat ons kan help om voorspellings te waag. Ek het 'n deeglike studie van huidige neigings gemaak, asook neigings in die verlede, en internasionale bronne geraadpleeg.

Ek kan seker maklik die stelling maak dat ons wêreldwyd, wat die weer betref, een van die mees buitengewone situasies in die geskiedenis beleef het en nog steeds beleef. Die volgende voorbeelde illustreer dit:

  • Buitengewone koue in Noord-Amerika, Kanada en Europa.
  • Die rekordgetal siklone, veral in Amerika.
  • Swaar reën in China.
  • Die ongewoon baie tornado's en sterkte van tornado's gedurende April in Amerika.
  • In Suid Afrika was die winter van 2005 een van die warmstes nog in die binneland.
  • Baie laat reën in die winter- en die somerreëngebiede.
  • Daarna die groot reën in bykans die hele somerreëngebied. Namibië en Botswana het die meeste reën in 50 jaar gehad.

    Hoe moet 'n mens hierdie, moontlik bykans eenmalige, dinge sien? Kan ons toekomstige weervoorspellings daarop baseer? Hoe gaan dit statisties verwerk word? Kan ons op grond daarvan voorspellings vir die komende winter maak? Ek sê nee. Bloot omdat ons nog nooit só iets beleef het nie.

    El Niño is belangrik, maar is nie die alfa en die omega van weervoorspellings nie. Die huidige situasie is dat ons 'n La Niña-fase beleef. Gedurende 'n El Niño-situasie is die seewater langs die kus van Equador en Peru (noordwes van Suid-Amerika) warmer as gewoonlik. Tydens 'n La Niña-fase is dit kouer. El Niño bring mee dat droogte in Suid-Afrika, Sri Lanka, die suidelike deel van Indië en ander lande in die Suidelike Halfrond voorkom. La Niña het die teenoorgestelde uitwerking. Die verwagting is dat La Niña teen die middel van die jaar gaan verdwyn en dat toestande gaan normaliseer.

    Tot in Junie word verwag dat die reënval in die somerreëngebied ietwat bo die gemiddeld sal wees. Vir die winterreëngebied word dit as effens onder die gemiddeld voorspel. Dus kan verwag word dat die reën en koue fronte wat daarmee gepaard gaan, ietwat laat gaan wees.

    Geen voorspellings is nou vir die tydperk ná Junie beskikbaar nie. Ek vind dus geen rede vir 'n buitengewoon lang en koue winter nie. As dit wel gebeur, is dit nie abnormaal nie.

    Die weer is in die hande van ons Skepper. Dit is deel van die natuur. Wie is ons om dit te wil beheer? Die Skepper sal bepaal hoe en wanneer ons reën en droogte sal kry.

    Op die webblad (www.weatherphotos.co.za) is voorspellings en foto's wat weersake illustreer. Dit is bruikbare inligting vir mense soos boere, reisigers, vlieë-niers en vissers en is gratis. Dit is ook interaktief, met foto's van die weer wat deur besoekers aan die webblad ingestuur word. Hierdie eg Suid-Afrikaanse webblad dek ook Namibië en Botswana.

  • Prof. Kobus Botha is 'n afgetrede professor in die landbou en gewese dekaan van die fakulteit Landbou aan die destydse Technikon Pretoria. Hy is 'n radio-amateur, amateur-fotograaf en stel al lank intens belang in die weer.

    12 Mei 2006