Dit is sonvlekke eerder as aardverwarming wat 'n rol speel in die nat en droë siklusse in Suid-Afrika, sê 'n oud-professor en ingenieur wat die afgelope reëntyd se vloede al laat verlede jaar voorspel het.
Op 9 November verlede jaar het prof. Will Alexander gewaar-sku dat daar 'n kans van meer as 75 % was dat wydverspreide reën - wat oorstromings sou veroorsaak - tussen dié datum en einde April vanjaar sou voorkom. Toe sou baie mense gedink het dié emiritusprofessor van die Universiteit van Pretoria en afgetrede ingenieur, wat jare lank by reënval- en afloopwatermeting betrokke was, is van lotjie getik.
Maar dit het gebeur soos hy verwag het. Hy skryf die akkuraatheid van sy voorspelling toe aan die noukeurige aantekening van weerverwante syfers en inligting en die sinvolle vertolking daarvan.
Hy sê die son is waarom alles draai. Daarsonder kan daar geen lewe wees nie. Dit verwarm die aarde met inkomende strale, maar daar is ook uitstraling. Daar is 'n balans tussen die inkomende en uitgaande straling.
In die 1980's het wetenskaplikes begin bekommerd raak dat die koolsuurgas wat nywerhede vrystel 'n kombers vorm wat die uitstraling terugkaats en tot aardverwarming lei. Dit behoort op sigself nie droogtes te veroorsaak nie, want meer hitte sorg vir meer verdamping en dié waterdamp kom af as reën. Trouens, Alexander se syfers wys die gemiddelde reënval in Suid-Afrika het in die afgelope 78 jaar met 9 % toegeneem.
Dit wil vir hom lyk of die wetenskaplikes wat navorsing oor aardverwarming doen, grootliks met teorieë werk en dat hulle nie baie van syfers hou nie. Hy glo net wat die syfers vir hom wys. Hy is bekommerd dat die teorieë wat in die huidige aardverwarmingsdebat gebruik word, nie met sy syfers strook nie.
Hy was jare lank by die bou van damme betrokke en het die afloop van riviere bestudeer. Hy het in die 1970's opgemerk dat daar oënskynlik twee vaste siklusse (een natter en een droër) in 'n tydperk van 21 jaar is. Maar op daardie tydstip had hy net syfers van sowat 30 jaar. Om daarin bo redelike twyfel 'n vaste neiging of patroon te bespeur, was onmoontlik.
In 1978 het hy 'n verslag opgestel waarin hy gesê het daar is 'n verband tussen dié klimaatsiklusse en die siklusse waarin dubbele sonvlekke voorkom. Volgens geskrifte was dit duidelik dat waarnemers dié verband oor baie eeue waargeneem het, "maar ongelukkig is dit vandag só dat as 'n mens van sonvlekke praat, dink mense jy's met die maan gepla", sê Alexander.
Teen 1993 het hy genoeg gegewens oor reënval, riviervloei en vloede gehad om 'n duidelike siklus waar te neem, wat dit moontlik maak om die voorkoms daarvan met groot akkuraatheid te voorspel.
Hy het toe tydens een van die groot droogtes wat die land geteister het, voorspel dat daar binne 'n jaar of twee groot vloede gaan wees. Net soos sy voorspelling van vanjaar se vloede, was hy in die kol.
Dit is ook omtrent in daardie tyd dat die teorie oor aardverwarming posgevat het. Dié teorie is oor die jare ál meer aangeblaas omdat daar niks gebeur het nie, maar mense se belangstelling daarin behou moes word, sê hy.
Daarteenoor het sy syfers, wat oor 80 jaar versamel is, gewys iets is aan die gebeur en dit gebeur volgens 'n vaste patroon. Daaruit kon hy ook aflei die voorspellings rakende aardverwarming is grootliks verkeerd en misleidend.
Die bewerings wat die doemprofete die wêreld instuur, is dat aardverwarming temperature teen die middel van dié eeu met 1 % tot 3 % kan laat styg. Hy sê dit is twak. Daar is getuienis van toenames en afnames in die gemiddelde temperatuur oor die afgelope eeu en daar is nog geen bewys dat dit nie net 'n soortgelyke wisseling is nie.
Die wetenskaplikes sê die gemiddelde reënval gaan met 5 % tot 10 % afneem. Dit is verkeerd, sê hy. Die gemiddelde reënval het sedert 1921 met 9 % toegeneem. As dit warmer word, gaan die reënval verder toeneem omdat meer verdamping sal plaasvind.
Die doemprofete sê sonverwante gesondheidsprobleme en watergedraagde siektes gaan toeneem. Hy verskil. Velkanker word deur sonstraling veroorsaak en watergedraagde siektes deur 'n gebrek aan higiëne - nie deur die klimaat nie.
Daar word 'n afname in graanproduksie voorspel, maar in die vorige produksiejaar was oorproduksie 'n probleem - juis in die tyd toe die waarnemers gesê het aardverwarming is nie meer net 'n teorie nie, maar 'n werklikheid.
Baie plant- en diersoorte gaan uitsterf, sê die wetenskaplikes. Maar Alexander dink nie plante en diere wat 'n temperatuurver-skil van 30 grade Celcius tot 40 grade Celsius tussen dag en nag kan oorleef, sal 'n probleem hê om aan te pas nie.
Aanvanklik is voorspel dat dié rampspoedige gebeure 50 jaar in die toekoms lê. Dit wil lyk of dit te ver in die toekoms was vir die huidige geslag om werklik daaroor bekommerd te raak. Nou word die rampspoed baie nader gebring en is die jongste uitsprake dat dit eintlik klaar te laat is om iets daaraan te doen, sê hy.
Klimaatskommelings is egter so oud soos die mensdom self. Die Egiptenare het dit al besef en Josef het naam gemaak deur die sewe vet en sewe maer jare te voorspel, volgens die Bybel én die Koran.
Meer as 100 jaar gelede het 'n Suid-Afrikaanse bosbouer reënval- en temperatuursyfers wat teruggedateer het tot 1842 bestudeer en 'n soortgelyke voorspelbare frekwensie waargeneem.
Alexander grond sy uitsprake en voorspelling nie op 'n teorie nie, maar op werklike syfers wat in die afgelope 80 jaar in Suid-Afrika versamel is.
Met die jongste vloede het 'n La Niña skielik in die Stille Oseaan ontwikkel, die sonvleksiklus was op 'n laagtepunt en toe stortreën dit - ál drie in een maand.
Hy is oortuig daar is 'n verband tussen die weer en die aktiwiteit van die son, maar presies hoe dit werk, weet hy nog nie. Daar is nou niemand in die land wat sonfisika bestudeer en vir wie hy kan raadpleeg nie. Internasionale kenners kan ook nog nie 'n klinkklare antwoord gee nie.
"Maar in my navorsing en uit die groot inligtingsbank wat ek opgebou het, sien ek niks wat daarop dui dat aardverwarming teenspoed vir Suid-Afrika inhou nie.
"Trouens, dit wys duidelik 'n beduidende toename in die hoeveelheid reën en die getal voordelige wydverspreide swaar reënneerslae, 'n toename in verdamping, verbeterde riviervloei, 'n styging in die watertafel en 'n statisties belangrike verband (95 %) tussen die dubbele sonvleksiklus en die reaksie van die klimaat daarop.
"Dit dui nie op bedreigde watervoorrade, 'n toename in die verspreiding van malaria, die uitsterwing van plant- en diersoorte en verwoestyning nie, maar eerder op meer water in die damme.
"Foto's van kinders wat van honger omkom en die meegaande bewering dat dit die gevolg van klimaatsverandering is, is opportunisties en vals. Hulle gaan dood weens heersende armoede en siektes en wanvoeding veroorsaak deur 'n gebrek aan hulpbronne, geld, kennis en vaardighede.
"Die doemprofete moet ernstig besin oor die sosiologiese, ekonomiese en politieke skade wat aangerig kan word as duur en ekonomies beperkende stappe gedoen word om 'n 'ramp' af te weer wat op foutiewe teorieë gegrond is.
"Ek is oortuig dat aardverwarming nie gaan lei tot die verskriklike rampe wat voorspel word nie," sê Alexander.
9 Junie 2006