Landbou
Maak reg vir 'n droë somer!
ISABEL STOLTZ

Weerprofete is dit eens 'n El Niño-jaar is aan 't ontwikkel. Dit is slegte nuus vir die landbou in die somerreëngebied.

Daar is 'n taamlik goed gevestigde El Niño-verskynsel, wat gewoonlik slegte nuus vir die landbou is. Maar daar is darem goeie nuus ook. Volgens prof. Hannes Rautenbach, hoof van die departement geografie, geo-informatika en weerkunde aan die Universiteit van Pretoria, dui waarnemings oor klimaatsverandering die afgelope 40 jaar nie daarop dat Suid-Afrika se jaarlikse reënval besig is om af te neem nie.

"Ons kry nog dieselfde hoeveelheid reën, dit val net op ander tye."

Hy sê die tekens van 'n matige El Niño-verskynsel is wel daar, maar dit kan in Desember opbreek, waarna normale toestande kan heers. "Die ou mense het altyd gesê as dit teen oom Paul (Kruger) se verjaarsdag (10 Oktober) nog nie gereën het nie, gaan dit 'n goeie najaar wees. Baie statistiek dui daarop dat 'n droë voorsomer deur 'n natter nasomer gevolg word."

Tydens 'n El Niño vergroot die kans op minder reënval en hoër temperature oor die grootste deel van die land. Dit is 'n ver-skynsel wat in die ekwatoriale Stille Oseaan voorkom wanneer die temperatuur van die see-oppervlak heelwat hoër word as gewoonlik.

Dr. Willem Landman, wat aan die hoof staan van die Suid-Afrikaanse Weerdiens se langtermynvoorspellings, meen 'n El Niño-verskynsel is taamlik goed gevestig en sal waarskynlik die hele somerreëntydperk voortduur. Hy verwag nie veel goeie nuus oor die tweede helfte van die seisoen nie. Hy raai boere dus af om nuwe landboupraktyke aan te pak.

Landman sê al lyk die voorjaar goed, moet mense nie vals hoop kry nie. "As die land gelukkig is, gaan dit 'n normale jaar wees, maar dit lyk glad nie na 'n bonormale reënjaar nie."

Wat in die Stille Oseaan aangaan, is egter nie die enigste bepalende faktor vir die land se weer nie, sê Landman. " 'n El Niño of die teenoorgestelde verskynsel, 'n La Niña, kom nie elke somer voor nie. Die ekwato-riale Stille Oseaan is baie ver van Suid-Afrika af. Die land word deur seewater omring en hierdie water dra by tot die invloed wat bogenoemde twee verskynsels op die land se somerweer het.

"Daar moet dus ook gekyk word na die Atlantiese en Indiese Oseaan, veral die ekwatoriale Indiese Oseaan, wat 'n beduidende invloed op die midsomerreënvalmaande het. Dié oseaan is ook besig om warmer te raak. As dit saam met 'n El Niño-verskynsel gebeur, raak die kans groter dat dit eerder droog as nat gaan wees.

"Die weerdiens gebruik ook rekenaarmodelle om voorspellings te maak. Deur te weet wat in die oseane gebeur en na modelvoorspellings te kyk, weet ons wat die waarskynlikste weerscenario gaan wees.

"Die jongste modelle toon nie baie belofte vir goeie reën in Desember en die res van die somer nie. Nat lentemaande word dikwels deur 'n droër tydperk van etlike maande in 'n El Niño-jaar gevolg. Dit lyk op die beste of die reënval gemiddeld kan wees, maar die grootste kans is vir ondergemiddelde reënval en bogemiddelde temperature."

Mnr. Johan van den Berg van Envirovision beaam dat 'n taamlik sterk El Niño-ontwikkeling aan die gang is en sê boere moet in gedagte hou watter uitwerking dit op Australië gehad het. Dié land het een van sy ergste droogtes nóg beleef.

"Daar is 'n taamlike sterk verband tussen Australië se droogtes en Suid-Afrika s'n as 'n mens kyk na die droogtes wat in 1965/66, 1982/83 en 1991/92 in albei lande voorgekom het. In 'n El Niño-jaar loop Australië Suid-Afrika vooruit, met droogte wat reeds in die winter 'n uitwerking het. In Suid-Afrika het dit eers 'n bietjie later in die somer 'n uitwerking. Australië het die afgelope winter 'n baie ernstige droogte beleef. Dit kan dus gebeur dat Suid-Afrika ook 'n kwaai droogte gaan beleef.

"Australië se koringoes is minder as die helfte van verlede jaar se oes 'n verwagte 9 miljoen ton tot 11 miljoen ton teenoor die vorige twee tot drie jaar se 22 miljoen ton tot 25 miljoen ton."

Van den Berg sê wat in die Suid-Afrikaanse landbou se guns tel, is dat grondwatervlakke weens die goeie reën vroeg vanjaar nie te sleg lyk nie. Die damme is ook in die algemeen taamlik vol en hy voorsien nie krisisse vir die volgende besproeiing-seisoen nie.

Wat die reënval betref, hou die mid-somer, volgens hom, egter waarskynlik ondergemiddelde reën en bogemiddelde temperature in dus swakker produksietoestande vir mielies.

Die reserwes wat opgebou is, het die veld ook goed laat herstel. Hoewel die produksietoestande in veral die westelike dele swakker is, lyk sake vir veeboere nog tot volgende winter goed. Daarna kan die uitwerking van die droogte ook op die weiding sy tol eis.

Van den Berg meen koringproduksie in die Vrystaat kan ook volgende jaar nadelig geraak word as swak toestande in die winter voorkom.

Dr. Kobus Botha, 'n landboukundige, sê die huidige tekens van 'n El Nio sal tot minstens Februarie volgende jaar voortduur, met 'n kans van 45% op ondernormale reënval.

Hy sê wat hom bekommer, is dat die somerreënpatroon nog nie behoorlik gevestig is nie, met koue fronte wat langer as gewoonlik aanhou en somerreën wat later as gewoonlik is.

"Ál die aanduidings is daar dat dit 'n droë jaar gaan wees."

Mnr. Willie du Plooy van die landbouversekeraar Agricola is ook bekommerd oor 'n droogte in die laatsomer, met ondergemiddelde reënval in Januarie en Februarie.

"Te veel reën laat in die seisoen kan egter ook oesverliese veroorsaak, soos wat vroeër vanjaar die geval was toe die onverwagse baie reën graadprobleme by mielies en swamskade by sonneblomme veroorsaak het en dit onbemarkbaar gemaak het."

Volgens mnr. Nicol Maas, 'n afgetrede wetenskaplike, is daar nie tekens wat op algehele lae reënval tot Maart volgende jaar dui nie, maar die swak verspreiding van reën in die 2006/07-groeityd sal ongunstig wees vir mielieproduksie in die gebiede om Potchefstroom.

Hy maak van die Landbounavorsingsraad in Potchefstroom se reënvaldata gebruik. Dit beperk sy projeksies tot 'n radius van 30km uit dié stad.

Sy projeksies berus op reën-valinligting wat oor 'n lang tydperk bymekaargemaak is. Hy sê 'n mens kan jare met 'n droogtekomponent altyd reg projekteer. "Indien reënvaldata volhoubaar in elke streek versamel word, kan projeksies landwyd feitlik 100% reg gedoen word."

Mnr. Gerhardt Schutte, hoof uitvoerende bestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie, sê daar is reeds dele in Noordwes wat droog is en dringend reën kort.

"Een van die ernstige implikasies is veldbrande, wat gewoonlik nie hierdie tyd van die jaar plaasvind nie en boere onkant kan vang. In die Noord-Kaap het brande op een plaas alleen reeds meer as 500 hektaar weiding vernietig."

Hy raai boere aan om versigtig te wees en konserwatief na veebelading te kyk.

Rautenbach sê daar flikkergeen gevaarligte as daar na waarnemings oor klimaatsverandering gekyk word nie.

Hy sê op grond van die laaste 40 jaar se data is daar nie 'n noemenswaardige aanduiding dat Suid-Afrika natter óf droër word nie.

"Klimaatsverandering weens kweekhuisgasverhitting is al die laaste 150 jaar met ons. Daar word geen groot veranderinge in die nabye toekoms vir Suid-Afrika verwag wat die totale jaarlikse reënval betref nie. Dit lyk wel of die seisoene effens skuif, met die gevolg dat droogtes langer duur en reën meer gekonsentreerd val.

"Dit wil voorkom of die somerseisoen en -reën vroeër ophou en dit reeds in April of Mei in die somerreëngebied droër word, terwyl die Wes-Kaap se winterreën langer aanhou. Met ander woorde die land kry nog dieselfde hoeveelheid reën; dit val net op ander tye.

"Dit is nie noodwendig sleg nie, maar dit beteken dat die bestuur van waterbronne daarby aangepas moet word. Dit kan gedoen word deur die bou van damme en besproeiingsregulering om water in die reëntyd beter op te gaar sodat daar in droë tye water beskikbaar sal wees."

Hy sê Suid-Afrika val nie in die gebied waar klimaatsveran-dering se uitwerking na verwagting die grootste gaan wees nie, maar die land se noordelike bure, soos Zimbabwe en Zambië, gaan dalk nie só gelukkig wees nie.

"Dit lyk reeds of die neiging is dat dit daar al hoe droër word."

Landbouweekblad, 15 Desember 2006