Landbou
SA, Australië wag vir natter dae
JEAN-MARIE DE WAAL (jdewaal@landbou.com)

Die langdurige Australiese droogte, aangehits deur 'n El Niño, het oor die afgelope jare baie boere in die stof laat byt. Behoort Suid-Afrika 'n gastekamer vir die droogte reg te hou en watter rol speel aardverwarming?

Die nalatenskap van een van Australië se neerdrukkendste droogtes word met dié van 'n oorlog vergelyk: Verlede jaar was die ekonomiese groeikoers in daardie land die stadigste in drie jaar en plaasinkomste het met sowat 20 % gedaal sedert die begin van die groot droogte (daar noem hulle dit "The Big Dry") in 2002.

Soos altyd wanneer die El Niño in Australië besoek aflê, hou boere en weerkundiges in Suid-Afrika dié kuiergas noukeurig dop.

Afgesien van die ekonomiese gevolge lol die droogte ook met die emosionele stand van boere. In Australië pleeg 'n boer elke vier dae selfmoord. Die vernaamste redes hiervoor is stres weens die geldelike probleme wat uit die droogte spruit en groot kuddeverliese, sê mnr. Jeff Kennet van Beyond-blue, 'n Australiese gesagsliggaam op die gebied van geestesgesondheid.

Die stedelinge in Sydney het amper nie meer drinkwater nie en in die droë Queensland peins inwoners (reeds bykans 'n jaar) daaroor óf hulle herwonne water sal drink ná 'n dekade van waterbeperkinge.

Op politieke vlak sloer 'n debat oor klimaatverandering al geruime tyd. Die BBC se Phil Mercer berig uit Sydney (waar 'n kwart van die bevolking woon) dat die openbare mening verdeeld is. Omgewingskundiges meen die enorme droogte is te wyte aan klimaatverandering, terwyl ander kundiges dit weer ontken.

"Politici glo werklik hierdie is 'n droogte wat vyf of ses jaar sal duur en iewers in 2007 of 2008 sal breek. Dit breek dalk eers regtig in 2050," sê prof. Andy Pitman, van die Macquerie-universiteit van Sydney.

Talle kenners meen landbougebiede in Australië kan oor net 'n paar dekades in volwaardige woestyne verander.

Eers nóu begin die Australiese regering, wat weier om die internasionale Kioto-verdrag vir die vermindering van kweekhuisgasse te onderteken, kennis neem van klimaatverandering, sê Pitman. Dit is grootliks vanweë die ernstige droogte en die belangrike Stern-verslag oor die ekonomiese gevolge van klimaatverandering (soos in 'n Landbouweekblad-artikel van 2 Februarie 2007 genoem).

Daar was in die verlede 'n verband tussen droogtes in Australië en Suid-Afrika, maar die presiese uitwerking van elke El Niño (wat normaalweg lei tot ondergemiddelde reënval) is moeilik om te bepaal, sê mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige en bestuurder van besigheidsontwikkeling by Agri Risiko Spesialiste (ARS).

Tydens 'n El Niño is minder reënval en hoër temperature oor die grootste deel van die land waarskynliker. Die verskynsel het sy ontstaan in die ekwatoriale Stille Oseaan wanneer die temperatuur van die see-oppervlak beduidend hoër as gewoonlik word.

Dit is veral moeilik om te sien of Suid-Afrika op die drumpel van 'n uitgerekte droogte staan. Wat wel kan gebeur, is dat weidingstoestande in die Sentraal-Karoo, Wes-Vrystaat en Kalahari kan verswak as reën nie in Februarie en Maart val nie. Dit sal 'n uitwerking tot minstens die middel van volgende somer hê, aldus Van den Berg.

Dr. Willem Landman, hoof van die Suid-Afrikaanse Weerdiens se langtermynvoorspellings, sê sy modelle wys Suid-Afrika behoort die El Niño te voel, maar in groot dele van die land kan die uitwerking minder merkbaar wees. " 'n Mens moet uiters dapper wees om te sê dit gaan 'n nat jaar wees as 'n El Niño heers."

Alle modelle het dit eens: Die sentrale en westelike dele van die land gaan oor die volgende paar maande swaar deur die El Niño getref word - die kanse vir gemiddelde reën is skraal.

El Niño' dra twee belangrike kenmerke: Nie een ontwikkel dieselfde as 'n ander nie en die sterkte verskil. Tweedens is die uitwerking van 'n El Niño nie met elke El Niño-gebeurtenis eenders oor die land nie: Dit kán baie droog wees met 'n swakkerige El Niño en weer nie so droog met 'n baie sterk gebeurtenis nie, sê Landman.

Die El Niño in 1991-'92 het baie droë toestande vir Suid-Afrika gebring, terwyl die El Niño in 1997-'98, een van die sterkste El Niño-gebeurtenisse wat nog waargeneem is, minder droë toestande gebring het. Verder het die ewe sterk El Niño-gebeurtenisse van 1982-'83 en 1997-'98 baie nat toestande vir die sentrale en westelike dele van die land in die lente gebring (spesifiek die El Niño van 1982-'83). Dit is deur 'n kwaai droogte gevolg. Tydens die El Niño van 1997-'98 het die reëntyd swak begin, maar die vernaamste reënmaande was natter, sê Landman.

'n El Niño het 'n uitwerking op Australië en Suid-Afrika as dit die hele seisoen sterk was, sê Van den Berg.

Die huidige El Niño behoort 'n geringe uitwerking op reënval te gehad het, sê hy, maar dit is nie die geval nie. Suid-Afrika is reeds droog.

Die rede hiervoor is dat die Indiese Oseaan aan die ooskus van die land warmer as gewoonlik is, 'n verskynsel wat nie regstreeks aan 'n El Niño gekoppel is nie.

Waar die vog van die Indiese Oseaan verder suidwaarts behoort te beweeg, konsentreer dit nou oos van Afrika. Verlede jaar het twee tropiese siklone die Indiese Oseaan getref - wat 'n aanduiding van warmer seetemperature is.

Kortliks: As gevolg van hitte, styg die lug (die begin van 'n laagdrukstelsel). Die stygende lug kondenseer en wolke vorm. Waar die laagdruk is, reën dit baie, soos in die Madagaskar-gebied oos van Afrika. In die gebied verder weg van die kern reën dit minder - 'n hoogdrukstelsel vorm en dit is ongunstig vir reën.

Winter- en somerreënvalvoorspellings Weens die El Niño wat swakker word, lyk dit asof meer neutrale seetemperature in die winter verwag kan word. Voorspellers is onseker of die Indiese Oseaan ook gaan afkoel.

'n El Niño gee goeie winter- en lentereën, veral in die winterreënstreke (Wes- en Suid-Kaap). Dit lyk egter asof die reën in die winterreënstreke laat, eers in Junie, gaan kom. Verder word ondergemiddelde reën verwag.

Ondergemiddelde reën in Mei en Augustus (damme se opgaartydperk) gaan koringproduksie in die Wes-Kaap onder druk plaas, meen Van den Berg.

In die somerreënstreke is die kans op reën in Maart goed, want die El Niño is besig om te verswak. Slegte nuus is dít hang af of die Indiese Oseaan ook afkoel om die kans op gemiddelde reën te verbeter.

Reën gaan dalk te laat vir die mielie-oes in die somerreënstreke kom, veral in die westelike produksiegebiede.

Hoë temperature word voorspel vir die jaar wat voorlê, weer veral in die westelike en sentrale produksiegebiede.

Die Britse Meteorologiese Kantoor sê 2007 bring wêreldtemperature van 0,54 grade Celsius bo die langtermyngemiddelde (tussen 1961 tot 1990) van 14 grade Celsius.

Mnr. Peter Johnston, 'n navorser van die ontledingsgroep van klimaatstelsels aan die Universiteit van Kaapstad, sê buurlande soos Zimbabwe, Mosambiek en Zambië kan ook langdurige droë toestande verwag.

Reënval in Suid-Afrika word deur verskeie patrone beïnvloed. Van die patrone wat aan meer reën gekoppel word, kan toegeskryf word aan die verskynsel wat klimaatvariasie oor Suid-Afrika veroorsaak, 'n La Niña (geassosieer met bogemiddelde reënval). Dan is see-oppervlaktemperature kouer as gewoonlik en die kanse beter vir 'n goeie reëntyd.

Ander bronne: www.beyondblue.org.au; www.breitbart.com; www.news.bbc.com; www.nswfarmers.org.au; www.cana.net.au

Aardverwarming en El Nino
Dit is 'n feit dat die aarde warmer word, maar die uitwerking op reënval en landbouproduksie is nie altyd duidelik nie, sê die landbouweerkundige mnr. Johan van den Berg. "Die plaaslike mielie-oes was byvoorbeeld oor die afgelope vyf tot tien jaar bogemiddeld weens klimaatverandering."

Dr. Francois Engelbrecht van die departement geografie, geo-informatika en weerkunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) sê of El Niño' in Suid-Afrika meer gereeld of van 'n erger graad gaan wees, gesien teen die agtergrond van aardverwarming, is nog onseker. Daar word wel verwag dat aardverwarming tot veranderings in atmosferiese sirkulasiepatrone oor Suid-Afrika gaan lei. Dit is nie regstreeks aan veranderinge in die voorkoms van El Niño gekoppel nie.

Die UP gebruik atmosferiese modelle om vas te stel wat die uitwerking van verhoogde kweekhuisgaskonsentrasies op klimaatverandering in Suid-Afrika is. Hieruit blyk dit die winterreënstreek kan 'n beduidende afname in reënval verwag weens 'n versterking van die sogenaamde Hadley-sel-sirkulasie oor Suid-Afrika.

'n Verstewiging van dié sirkulasie-sel beteken 'n hewiger hoogdrukgordel kom in die winter oor Suid-Afrika voor weens aardverwarming. Die sterker hoogdrukgordel maak dit moeiliker vir frontale stelsels (wat tot reën lei) om oor die suidelike dele van Suid-Afrika in te beweeg.

Laer jaarlikse reënval word weens aardverwarming oor bykans die hele somerreënstreek verwag. Vooruitskatting vir besondere seisoene en streke is ingewikkeld.

Oor die oostelike dele van Suid-Afrika kan 'n effense toename in reënval in die middel van die somer verwag word. Droër toestande behoort egter in die laatsomer, winter en vroeë somer te heers.

Verder word buitengewoon laat, nat somers meer gereeld in die westelike en sentrale binneland verwag.

Hy sê die modelsimulasies dui klimaatverandering oor die somerreënstreek is in 'n groot mate die gevolg van die invloed van aardverwarming op die Hadley-sel-sirkulasie oor Suid-Afrika. Dit beteken 'n verandering in die sterkte en posisie van hoogdrukstelsels oor die subkontinent. Dit wil voorkom asof die El Niño-verskynsel 'n kleiner uitwerking op Suid-Afrika se klimaat gaan hê en meer gereeld kan voorkom vanweë aardverwarming.

Hoewel in die algemeen droër toestande oor die land verwag word, kan daar steeds seisoene wees met bogemiddelde reën. Die langtermyn-neiging behoort egter toenemend droër toestande te openbaar.

Australië kyk vorentoe
Sedert einde November 2006 het see-oppervlaktemperature van die Stille Oseaan met sowat 0,1 tot 0,4 grade Celsius afgekoel. Weerkundiges in Australië meen die El Niño verswak en die terugkeer van gewone reënval is in sig.

Luidens navorsing wat in 2003 gedoen is en deur die Climate Action Network Australia aangehaal word, gaan die sameloop van watertekorte en klimaatverandering stresverwante sterftes onder vee teen 2050 met bykans 138 % in dié land laat toeneem.

Stresverwante sterftes onder suiwelbeeste behoort ook te verhoog. Jaarlikse melkproduksie kan met 250 liter tot 310 liter per koei afneem.

Met hoër temperature, minder water en toenemende verdamping gaan die produksie van katoen waarskynlik met 8 % tot23 % verminder.

'n Afname in ryp sal goeie gevolge vir sekere gebiede bring, maar nie vir vrugte soos appels wat koue-eenhede in winter verlang nie.

Terwyl koring baat sal vind by 'n toename in koolsuurgas, sal watertekorte, hoër soutgehalte en 'n toename in die gereeldheid van droogtes druk op koringprodusente plaas.

'n Afname van 20 % in reënval sal weiding in Australië met minstens 15 % verminder. Dit kan vee se gewigstoename met 12 % laat afneem.

Sedert Oktober 2006 is meer as 900 miljoen Australiese dollar in droogtehulp toegestaan. Gebiede in Nieu-Suid-Wallis, wat die ergste deurloop, gaan tot Maart 2008 hulp ontvang.

Landbouweekblad, 23 Februarie 2007.