Inwoners van die Limpopo-provinsie juig ná die goeie neerslae wat die afgelope naweek oor dele van die gebied voorgekom het. Die neerslae was veral welkom na die gebied 'n besonder droë en warm winter ondervind het.
Die voorsitter van TLU SA Noord, Dries Joubert, het sy dankbaarheid uitgespreek met die wydverspreide reën wat die afgelope naweek in die gebied geval het.
Mnr. Jannie Jacobs, voorsitter van Pietersburg DLU, het gesê dat die gebied tussen 20 - 50 mm reën ontvang het. Legkraal het 20 mm gehad, Bloedrivier tussen 20 - 34 mm, Transsand het 15 mm en in Tzaneen het die reënmeters oorgeloop. Die reën het presies op die regte tyd geval en 'n goeie seisoen word verwag.
Mnr. Gert Snyman, voorsitter van Ellisras DLU, het gesê dat dit tussen 36 - 87 mm gereën het. Ellisras self het tussen 36 - 45mm, Steenbokpan tussen 54 - 70 en Stokpoort meer as 86 mm aangeteken. Hy het gesê die ou bos is blitsig en daar behoort alreeds oor twee weke 'n groot verbetering te sien te wees.
Mnr. Jakes Breedt, voorsitter van Vaalwater DLU het sy dankbaarheid uitgespreek vir die wydverspreide reën wat in sy gebied geval het. Tussen 50 - 60 mm reën is gemeet.
Mnr. Rudi Heinlein, voorsitter van Koedoesrand DLU, het gesê dat dit tussen 20 - 45 mm gereën het. Baltimore het tussen 20 - 25 mm reën gehad en Maassstroom tot 40 mm. Op Baltimore het een boer haelskade gerapporteer.
Mnr. Gideon Meiring, voorsitter van Soutpansberg DLU, het gesê dat die boere geweldig dankbaar is vir die wydverspreide reën. Bandelierkop het tussen 45 - 60 mm reën gehad, Alldays tussen 70 - 120 mm en Levubu 50 - 77 mm. Mnr. Stephen Hoffman, ondervoorsitter van Soutpansberg DLU het gesê dat die laaste 4 - 5 jaar baie droog was veral vanaf Augustus tot November. Die reën so vroeg in Oktober is 'n wonderlike verligting en dui op 'n beter jaar. Waterpoort het 72 - 80 mm gehad en Mopani tot 120 mm. Die boere langs die Sandrivier het tot 140 mm gemeet. Die Limpopo kom af en besproeiingsboere langs die Limpopo het nou weer genoeg water. Boere meen geld kan die reën koop nie en dit bewys die geweldige grootte van die natuur en die afhanklikheid van ons as mense van die natuur.
Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van Thabazimbi DLU, het gesê dat teen die Limpopo 120 mm reën gemeet is. Vir die boere is die reën meer as die totale reënval die vorige seisoen. Die neerslae is as "fantasties" beskryf. Hy het gesê as goeie opvolg reën gaan volg, dit 'n besondere voorspoedige jaar gaan wees.
Mnr. Francois du Toit, voorsitter van Warmbad DLU het gesê dat die boere baie optimisties is na die wonderlike reën. Tussen 35 - 50 mm is gemeet. Die reën het wydverspreid voorgekom in teenstelling met die vorige seisoen waar die reën kol-kol voorgekom het.
Mnr. Peet Peens, voorsitter van Potgietersrus DLU het gesê dat die reën oor 'n wye gebied verspreid was. Alhoewel die weiding in sommige plekke baie swak is, sal opvolg reën werklik 'n groot verskil maak. Tussen 25 - 40 mm is in die gebied gemeet.
Mnr. Joubert sê sagte indringende reën het oor twee dae geval. Water het nie weggeloop nie maar ingetrek. Hy het gesê dat die waarde van reën nie in geldwaarde uitgedruk kan word nie.
1 Oktober 2007