Landbou
Weervooruitsigte lyk goed
NICO VAN BURICK

Die weervooruitsigte vir die res van die jaar lyk beter as in 'n baie lang tyd. Die grootste deel van die land kan gemiddelde tot bogemiddelde reën verwag.

Dié goeie nuus kom van mnr. Johan van den Berg, weerkenner van Enviro Vision in Bloemfontein. Hy het op Landbouweekblad en AMT se vooruitskouingskonferensie in Pretoria gesê die sterkste La Nina-verskynsel in dekades word in die volgende paar maande verwag. 'n La Nina-verskynsel is wanneer die oppervlaktemperatuur in die Stille Oseaan koeler as gewoonlik is en dit kan gewoonlik tot goeie reën in Suid-Afrika lei. Hy sê dié verskynsel behoort tot die winter van volgende jaar voort te duur.

In teenstelling was die afgelope seisoen een van die slegstes nóg. "Talle dele van die land het die laagste reënval op rekord aangeteken." Hy sê dit was 'n ekstreme gebeurtenis en nuwe limiete is bereik. Met die grondvog wat teen einde 2006 beskikbaar was sou die mielie-oes die afgelope jaar sowat 8,5 miljoen ton gewees het as dieselfde hoeveelheid reën as in 1992 geval het. Die oes was uiteindelik net bo 7 miljoen ton.

Volgens Van den Berg was die land die afgelope drie dekades nie goed daaraan toe wat reënval betref het nie. "Net twee van die laaste tien jaar het die land bogemiddelde reën gehad," het hy gesê. Hy sê die groot vraag is of dit die gevolg van klimaatsverandering is en of die land in die toekoms weer genoeg reën gaan kry om dit weer by die gemiddelde op lang termyn tot staan te bring. Dit is egter belangrik om nie soveel klem op klimaatsverandering te lê dat boere fokus verloor nie.

In die Noordelike Halfrond lyk die reënvooruitsig vir die komende seisoen minder belowend.

Landbouweekblad, 9 November 2007