Landbou
Reën knou Namibiese boere
Deur ANDRIES GOUWS

Honderde skape is vrek toe 'n onverwagte vlaag koue saam met die eerste reëns in die suide van Namibië voorgekom het. Plek-plek sal die reën die knellende droogte verlig, maar op die meeste plekke was die neerslae baie lig.

Mnr. Timm Miller van die plaas Aroab, Helmeringhausen, het sowat 150 skape verloor. Skaap- en bokvrektes het deur die hele suide van die land voorgekom, van Mariental tot suid van Aus. By Gibeon het 'n boer ook meer as 100 skape verloor en selfs stoetdiere het op sommige plase in die slag gebly.

Miller sê die reën het Maandagnag uitgesak en sowat 10 mm het op sy plaas geval. Die reën het egter gepaard gegaan met 'n ysige westewind wat die aanvoelbare temperatuur aansienlik laer laat daal het as die vier grade Celcius wat hy gemeet het.

Reën of koue alleen is geen probleem nie, maar die twee saam het die moeilikheid veroorsaak. Die reën was genoeg om die Karakoelskape deurnat te maak en toe verkluim hulle in die wind. Talle van die skape is ook vrek getrap soos wat hulle saamgedrom het.

Hy het sy skape net die week tevore geskeer, die lammers is ook pas gespeen en die ooie se kondisie was swak op die baie droë veld.

Die reëntjie het klaar 'n groenigheid laat deurslaan, maar nog reën is nodig om 'n werklike verskil te maak, sê hy.

Me. Louisa Campbell van die plaas Lovedale in dieselfde omgewing sê skade het wyd voorgekom, hoofsaaklik omdat die meeste boere hul diere pas geskeer het. In dié omgewing het tussen 10 mm en 17 mm reën geval.

In die verre suide en suidoostelike gebiede het die reën egter groot uitkoms gebring nadat boere vasgevang was in 'n knellende droogte. Op Karasburg het 40 mm geval, op Keetmanshoop 36 mm, op Aus 32 mm en 11 mm op Mariental.

Die week tevore is die spoorlyn tussen SA en Namibië naby Ariamsvlei beskadig tot sowat 100 mm reën binne 'n uur daar geval het.

7 November 2007