Die welkome reën wat op Oukersdag oor groot dele van die Noord-Kaap geval het, is nie genoeg om boerderytoestande in dié ekstensiewe veeweigebiede noemenswaardig te verbeter of droogtehulp te staak nie.
Hoewel 10 mm tot 90 mm reën op 24 Desember oor die grootste deel van die somerreëngebiede van die Noord-Kaap gemeet is, is daar dele van die Boesmanland wat nog geen reën ontvang het nie. Die versengende hitte wat sedert Kersdag heers, droog boonop die grond gou uit. Klagtes is ook ontvang van boere wat vanweë die feestyd probleme met die aflewering van sekere voere ondervind.
Mnr. Manie Dixon, voorsitter van Agri Namakwaland, sê in sy omgewing is gemiddeld rondom 30 mm gemeet, maar dit sluit in dele wat maar 10 mm ontvang het, en ander wat 70 mm en 84 mm gekry het. "Dit het streep-streep gereën en dagtemperature van tot 41 grade Celsius bak die grond vinnig droog."
Mnr. Lambert Brand van die plaas Taaiboskraal, Loeriesfontein, het die 25 mm reën wat hy op 24 Desember gekry het, as "God se genade" beskryf, maar gesê slegs as plase in sy omgewing voor middel-Januarie opvolgreën kry, sal toestande verbeter.
Reënvalsyfers van 25 mm tot 75 mm is op plase rondom Williston aangeteken, dog mnr. Brand du Toit, voorsitter van die Williston Landbou-unie, sê daar is plase wat nie reën gekry het nie.
Dele van die Noord-Kaap se winterreëngebied het ook reën gekry en die Buffelsrivier naby Springbok wat gewoonlik net in die winter loop, het na 24 Desember vir 'n paar dae geloop - 'n rare gesig volgens mense wat al lank in die streek woon.
2 Januarie 2008