Goeie reën sedert die begin van die jaar het veroorsaak dat die vlakke van die land se opgaardamme in die meeste provinsies styg, maar die gemiddelde vlak van al die damme saam is steeds minder as die ooreenstemmende tyd 'n jaar gelede.
Die gemiddelde vlak landswyd is nou 84% teenoor 87% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Provinsies waar die damme voller as verlede jaar dié tyd is, is Gauteng 104% teenoor 96%, Limpopo 65% teenoor 61%, Noordwes 69% teen 67%, en die Wes-Kaap 79% teenoor 63%.
Provinsies waar die damvlakke steeds laer is, is Oos-Kaap 79% teenoor 84% verlede jaar dié tyd, Vrystaat 85% teenoor 88%, KwaZulu-Natal 89% teenoor 93%, Mpumalanga 86% teenoor 91% en Noord-Kaap 92% teenoor 93%.
Weervooruitsigte vir die res van die somerseisoen lyk egter steeds belowend in teenstelling met die droogte wat verlede jaar sedert Januarie geheers het.
Volgens die Departement van Waterwese en Bosbou se jongste damverslag staan die Vaaldam se vlak op 87%. Die Bloemhofdam het in 'n week gestyg van 85% tot 87% en die Gariepdam van 82% tot 84%.
Onder die land se ander groot damme, lê Vanderkloofdam op 85%, Heyshope- op 96% en die Pongolapoortdam op 84%.
In die Wes-Kaap is die Clanwilliamdam 71%, die Brandvleidam 67% en die Theewaterskloofdam 93% vol.
23 Januarie 2008