
Boere in die Ellisras-omgewing is gewaarsku oor 'n naderende vloed in die Mogolrivier.
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord, het lede in die Ellisras-omgewing gewaarsku dat die Mogolrivier in vloed is en dat skade aan pompe in die rivier aangerig kan word.
Ná dae lange reën in die gebied is die Mogolrivier in vloed en die goeie reën wat in die Vaalwater-gebied geval het, dra by tot die hoë vlak van die rivier en dam. 'n Boodskap is ontvang dat die Mokolodam se sluise vanmiddag om 14:00 oopgemaak gaan word omdat die dam reeds 110% vol is. Volgens berigte is die brug tussen Ellisras en Marken al byna onder water.
Boere is versoek om dringend alle waterpompe uit die rivier te onttrek sodat skade voorkom kan word.
Joubert het gesê dat die water baie vinnig vloei en dat dit 'n gevaar vir mens en dier inhou en boere gevra om diere wat naby die rivier wei, dringend te verwyder.