Natter toestande in die laatsomer en herfs in veral die sentrale en westelike dele van die land is van die gevolge wat die La Niña-weerverskynsel in Suid-Afrika kan hê, sê mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige en bestuurder van besigheidsontwikkeling by Santam Agri in Bloemfontein.
Die invloed daarvan op die landbou in Suid-Afrika is goeie weidingstoestande maar swakker gehalte weiding. Die koeler toestande kan ook die groei van somergewasse vertraag. Mielies gaan redelik lank nat bly en die stroopproses kan vertraag word.
In Amerika beteken dit droër toestande veral oor die weste en noordwestelike dele van die land. Dit kan veral in Junie tot Augustus skade aan die mielie-oes veroorsaak wanneer die mielies in kritieke stadiums is.
Die kans is ook redelik groot dat dele van China en Sentraal- en Wes-Afrika droër toestande sal hê.
14 Februarie 2008