Landbou
Die weer verg vinnige besluite
ISABEL STOLTZ

Verskeie voorspellings dui op gunstige landboutoestande in die komende maande.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is die heersende warm see-oppervlaktemperature in die suidwestelike Indiese Oseaan 'n aanduiding van gunstige reënvaltoestande in die oostelike en noordoostelike dele van Suider-Afrika in die winter. In die suidwestelike dele van Suid-Afrika is ondernormale reënval in dié tydperk effens meer waarskynlik as normale reënval.

Namate die lente vorder, sal normale reënval in die suidwestelike dele die waarskynlikste wees, terwyl bonormale reënval in die sentrale dele van Suider-Afrika die waarskynlikste is.

In die noordelike dele kan bogemiddelde temperature in die wintermaande verwag word (normaal elders in die land), terwyl die hele land normale temperature aan die begin van die lente behoort te ervaar.

Volgens mnr. Sakkie Nigrini, 'n onafhanklike weerkenner, lyk die toestande tans taamlik goed vir die Kaap, maar hy sou graag 'n beter El Niño wou sien vir goeie reën in dié streek.

Hy sê dit is te vroeg om te sê wat in die binneland gaan gebeur.

Mnr. Johan van den Berg van Envirovision sê die stand van seetemperature is baie neutraal, met 'n effense El Niño-neiging in aanloop tot die lente. Dit dui op normale tot moontlik bonormale reënval in die lente en vroeë somer, na gelang van hoe goed die El Niño ontwikkel. Selfs die midsomer kan normaal wees.

"'n Groot faktor wat die reënval en temperatuur minder deurslaggewend maak, is die heersende grondvogtoestande - die beste in die laaste sowat 10 jaar. Baie plekke het in die afgelope seisoen meer as dubbeld die normale reënval gehad en die groot hoeveelheid oorgedraagde grondvog kan die effek van die reënvalpatroon verminder," sê Van den Berg.

Seisoenale weervoorspellings is egter net van nut vir mense wat nie in 'n roetine verval met besluitneming nie, maar in staat is om besluite te heroorweeg sodra nuwe inligting dit vereis, sê dr. Mike Harrison van die Britse weervoorspellingsdiens.

Aan die ander kant, sê hy, is dit belangrik dat weerkundiges besef hoe breed die impak van landboubesluite strek en bewus is van die talle maniere waarop voorspellings 'n boer se besluitnemingstrategieë kan beïnvloed.

Die gehalte van inligting neem in die algemeen af hoe verder vooruit voorspel word. Die gevolge van besluite wat geneem is met die oog op die toekoms het dikwels 'n langer uitwerking en is moeiliker om reg te stel as besluite wat op die kort termyn gemik is.

"Weerdienste is dikwels uit voeling met die werklikhede van die landbou. Deur slegs weervooruitsigte te verskaf, sal hulle waarskynlik net die wantroue wat reeds bestaan, vererger.

"Tensy klimaatsvooruitsigte geïntegreer word met ander aspekte, soos infrastruktuur en die verskaffing van produksiemiddele, is daar 'n duidelike risiko dat dit as net nóg nuttelose inligting beskou kan word," het Harrison op 'n internasionale konferensie oor uiterste weerstoestande in Pretoria gesê.

Volgens hom behoort die breër maatskaplik-politieke en ekonomiese situasie in 'n land ook in ag geneem te word in 'n evaluasie van die benutting van seisoenale voorspellings.

Harrison het in die Suid-Afrikaanse verband verwys na veranderinge in regeringsbeleid ná 1994, wat 'n geweldige impak gehad het op die omgewing waarbinne boere besluite moet neem. Dié beleidsveranderinge sluit grondhervorming, die deregulasie van landbourade en die heroorweging van droogtesubsidies in.

Klimaatswisseling raak besluitneming in die landbou op verskeie vlakke, soos logistiek (plantskedulering en oesinsameling), gewasbestuur (bemesting en plaagbestryding), die soort gewas en wisselbou en grondgebruik.

Die volgende faktore is deurslaggewend vir die gebruikers van weervoorspellings:

  • Die tydraamwerk - of die voorspelling van onmiddellike of langtermynbelang is.
  • Die ruimte waarbinne besluite geneem word (wetlike begrensings).
  • Die doel (die optimalisering van ver-skeie toestande en die beperking van risiko).
  • Die basis vir besluite - tradisie, prosedure, professionele oordeel, opleiding, politiek en beroepsrisiko's.
  • Verwagtinge - ten opsigte van die akkuraatheid van inligting, die besparing van tyd en geld en beskerming.

    Die voordeel van die gebruik van voorspellingsinligting hang af van die gehalte daarvan (die weerdiens se verantwoordelikheid), die manier waarop die inligting versprei en ontvang word (die weerdiens én die gebruiker se verantwoordelikheid) en die manier waaarop dit by die besluitnemingsproses ingeskakel word (die gebruiker se verantwoordelikheid).

    Harrison sê die waarneming van klimaatsresultate strook gewoonlik met die voorspelling, maar nie met die interpretasie of die klem wat daarop geplaas word deur diegene wat vir die verspreiding van inligting en gebeurlikheidsplanne verantwoordelik is nie.

    "Inligting het slegs waarde as dit daartoe bydra om 'n besluit te verander of te bevestig."

    Veeboere in Suider-Afrika is byvoorbeeld in 1991/92 - 'n uitermate droë jaar - in 'n ondersoek oor weersienings gevra of die seisoen normaal was. Altesame 73 % het "ja" gesê.

    Harrison sê modelle is nodig om objektief te bepaal wat die uitwerking van klimaatswisseling, seisoenale voorspellings en bestuur op landboustelsels is.

    Volgens 'n Australiese model kan boere hul produksiekoste beduidend verlaag deur die korrekte gebruik van seisoenale voorspellings.

    Diens aan boere uitgebrei
    Die Suid-Afrikaanse Weerdiens kan boere nou help om hul risiko's te verminder deur die voorspelling van buitengewone seisoenale weerstoestande.

    Volgens dr. Willem Landman, wat in beheer van langtermynvoorspellings is, het die Weerdiens 'n metode ontwikkel om die voorspellings van sekere rekenaarmodelle statisties te verwerk. Dit maak dit moontlik om buitengewoon nat en droë seisoene in verskillende streke van die land te voorspel.

    Voorspellings is tot nou toe slegs uitgedruk as waarskynlikhede van bonormaal, normaal en ondernormaal en kon nie 'n aanduiding gegee van komende intense droë of nat toestande nie.

    Om te bepaal of 'n seisoen buitengewoon nat of droog is, word dit gemeet aan 20 % van sulke toestande oor 'n tydperk van 45 jaar, dit wil sê die nege droogste of natste jare in dié tydperk.

    In die somermaande, van Desember tot Februarie, kan sulke toestande met 'n groot mate van vaardigheid in die sentrale en noordoostelike binneland voorspel word. Van Maart tot Mei is dit vir die westelike helfte van die land moontlik, met die uitsondering van die Wes-Kaap, waar sulke voorspellings nog glad nie moontlik is nie (sien grafiek).

    Moontlikhede om van Maart tot Mei voorspellings vir buitengewone droë of nat seisoene te maak.

    Dit is ook nog nie moontlik om sulke voorspellings vir die lentemaande (September tot November) en die wintermaande (Junie tot Augustus) te maak nie, sê Landman. Navorsing en ontwikkeling wat dit waarskynlik binnekort moontlik sal maak, is egter aan die gang.

    Dienste wat reeds op 'n gereelde grondslag verskaf word, is waarskuwings oor weeklikse weerstoestande wat 'n hoë impak kan hê. Dit sluit skielike afkoeling, sneeu, swaar reën en warm, droë en winderige toestande in. Langtermynvoorspellings vir reënval en oppervlaktemperature vir 'n komende maand of 'n tydperk van drie maande is ook beskikbaar.

    Die Weerdiens kyk na die moontlikheid om behoeftegedrewe voorspellings aan groepe boere te verskaf omdat verskillende bedrywe verskillende behoeftes het. Boere kan die diens laat weet wat hulle benodig. Stuur dié inligting per e-pos aan dr. Willem Landman, willem@weathersa.co.za, of faks dit na 012 367 6189 (vir sy aandag gemerk).

    23 Junie 2006