Landbou
Klimaatverandering: Kennis is mag
AMELIA GENIS

As boere die uitwerking van klimaatverandering wil versag, sal hulle hul kennis moet opskerp en dalk hul boerderymetodes verander, sê 'n boer wat reeds die eerste treë in dié rigting gegee het.

Vir me. Liz Eglington, organiese olyf- en rissieboer van die plaas Buffelshoek in die Klein-Karoo, is die uitwerking van klimaatverandering 'n werklikheid. Haar ervaring die afgelope paar jaar het haar geleer dat dit uiteindelik almal gaan raak, en dat dit nou tyd is om veranderinge te maak om daarby aan te pas.

Die vallei-ligging van haar grond en die volhoubare organiese boerderypraktyke wat sy toegepas het vandat sy die plaas 11 jaar gelede gekoop het, het haar laat glo dat daar altyd genoeg water sou wees. Toe kom die winter van 2005: Droog, met 5 mm reën hier en 10 mm daar.

Eglington sê sy het nie besef dat die reën te min is om die grondwater aan te vul nie. Daardie jaar het die rivier op die plaas ook nie geloop nie. Verlede September was dit baie koud, en daarna het hulle twee maande lank aanhoudende, sterk en warm winde gehad. In November het ál haar olyfbome hul blomme afgegooi.

"Eers het ek gedink ek het iets verkeerds gedoen, maar mettertyd uitgevind dieselfde het op ál die buurplase ook gebeur."

Toe kom die hitte. "Elke druppel water wat ons gegee het, het verdwyn en die volgende dag was die plante weer verlep."

In Desember het die fontein in die kloof opgedroog en toe die plaas se boorgat. "Teen Maart was daar steeds geen reën nie en 'n konstante dagtemperatuur van 45 grade. Ons moes onderdak begin werk, só warm was dit. "Ons het ons oë opgeslaan na die lug en gebid. Ons het geglo die somerreën wat ons gewoonlik kry, is maar net laat."

In Calitzdorp het die watertafel met 100 meter gesak, teen die Rooiberg het diere gevrek en daar was waterbeperkings op alle Karoodorpe.

Eglington sê in daardie stadium het hulle hul taktiek verander en begin wonder wat hulle gaan doen as dit glad nie reën nie. "Ons het ons boerderypraktyke ondersoek en begin om beter stelsels in werking te stel." Eglington sê hulle het eerstens probeer om water te bewaar en die hele plaas se waterbehoefte te verklein. Hulle het byvoorbeeld alle geboue se geute nagegaan en watertenks opgerig. Die plaas is in verskillende dele verdeel en elke deel het 'n streng waterskedule gekry. Plaaswerkers is verantwoordelik gehou vir elke druppel water, en die nodige respek vir water is weer by almal ingeskerp.

Eglington sê hulle het mettertyd besef hulle is nie te besig om lekplekke aan besproeiingspype reg te maak of pype toe te gooi nie. "Ons het alles gedoen om watergebruik te beperk; dooie bome se water afgesny, besproeiing volgens plantbehoeftes geskeduleer en tonne deklaag in die boorde gegooi."

Daarna het hulle begin voorberei vir die dag dat dit weer sou reën, want voorspellings het daarop gedui dat baie reën oor 'n kort tydjie sou val.

Alle wateraflope is nagegaan. "Ons het kontoere en kanale gegrawe om die waterafloop te beheer." Toe die reën in Mei gekom het, het niks gevrek nie en geen probleme is met erosie ondervind nie.

Volgens Eglington is die aanvanklike krisis afgeweer, maar dis nog vroeg in die seisoen. "Ons besef nou hoe onseker en kwesbaar ons as boere is, maar het ook 'n paar kosbare lesse geleer."

Sy sê dit is noodsaaklik dat boere soveel inligting moontlik insamel oor klimaatverandering, opteken wat op hul plase gebeur en hul boerderye voorberei vir intense weerstoestande, soos hoër temperature of kort, hewige reënbuie, wat deur klimaatverandering veroorsaak kan word, en die inligting en kennis wat hulle versamel, met mekaar deel.

Sy glo dat biologiese boerderypraktyke haar plaas se redding was en dat die toekoms vir Suid-Afrikaanse boerdery opgesluit lê in dekgewasse en humusryke grond wat wemel van mikro-organismes, minimumbewerkingspraktyke, die minimale gebruik van landbouchemikalieë, wisselboustelsels, die gebruik van inheemse plante as windheinings en die benutting van hernubare bronne van energie.

Eglington kan steeds nie verklaar waarom die olyfbome hul blomme afgegegooi het nie, maar vermoed dat daar veel is wat die mens nie van die natuur weet nie, en dat die olyfbome dalk "geweet" het van die ongunstige toestande wat op pad is. "Dit wys net weer dat ons baie meer moet waarneem en kennis neem van wat in die natuur gebeur en verander, sodat gebeure soos hierdie nie vir ons so 'n groot verrassing is nie."

Sy sê dit is ook absoluut noodsaaklik dat boere kennis neem van die veranderinge en watter uitwerking dit veral op plase met nie-volhoubare boerderymetodes kan hê. Sy erken dat dit nie maklik gaan wees om boere te oortuig om, noudat hul winsgewendheid onder druk is, ander praktyke in werking te stel nie. "Ons moet hulle benader met 'n boodskap van hoop, dat dit nie die einde van die pad is nie, en dat hulle nie hul plase hoef te verkoop nie, want daar is ander maniere om te boer."

Dr. Guy Midgley, hoof-spesialisweten-skaplike by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) in Kaapstad, sê daar is talle bewyse dat Eglington se ervaring nie bloot aan "nat en droë siklusse" toegeskryf kan word nie.

Trouens, navorsing deur prof. Bruce Hewitson van die Universiteit van Kaapstad se navorsingsgroep wat klimaatstelsels ontleed, toon dat klimaatverandering reeds sigbaar is in die toename in gemiddelde temperatuur, 'n toename in temperatuur-skommeling en 'n afname in koue weer. Hy het trouens gevind dat 2005 die warmste jaar nóg was, die afgelope agt jaar die warmste in 100 jaar en die afgelope eeu die warmste in 1 200 jaar.

Midgley voeg by dat meer inligting op verskillende vlakke ingesamel moet word om neigings in klimaatverandering meer akkuraat te voorspel en die impak daarvan op reënval, temperatuur en biodiversiteit beter te verstaan. "Daar is nog 'n mate van onsekerheid op sekere gebiede, daarom konsentreer ons op opsporing, meting en voorspelling."

Midgley sê behalwe hul modelle en dit wat gemeet kan word, verskaf die natuur 'n magdom inligting. "Ons moet leer om tekens wat die natuur uitstuur, beter te verstaan, en modellering en eksperimente moet gepaardgaan met doelgerigte monitering en waarneming. Volgens hom het die natuur sekere aanpassingsdrumpels; plante, diere en voëls kan byvoorbeeld aanpas by temperatuurveranderinge van tot 2 grade Celsius, maar by hoër temperature sal hulle vrek of na ander gebiede trek. Hy sê dit is belangrik om te weet waar daardie drumpels is.

Vanweë van die potensiële invloed van klimaatverandering op biologiese verskeidenheid, sal beskermde gebiede, soos bewareas en natuurreservate, 'n belangrike rol speel om dit te beskerm. Midgley sê meer beskermde gebiede moet uitgesoek word, die bestaande gebiede moet vergroot word en daar moet geprobeer word om ekostelsels so na moontlik aan hul oorspronklike toestand te herstel. "Korridors" wat verskillende ekostelsels aan mekaar koppel en ex situ-saad- en genebanke sal ook belangrike metodes wees om biodiversiteit te beskerm. "Klimaatverandering verlaag nie die belangrikheid van beskermde gebiede nie; dit verhoog dit."

Heelparty modelle dui daarop dat die westelike dele van Suid-Afrika droër gaan word en die oostelike dele natter. "Dis nie net slegte nuus nie, maar ons sal sekere aanpassings moet maak."

Midgley sê min werk is tot dusver in die Suidelike Halfrond gedoen, maar navorsing wat Sanbi gedoen het, toon dat wat met kokerbome (Aloe dichotoma) as moontlike indikatorplante gebeur, op klimaatverandering kan dui, en 'n waar-skuwing van die natuur is. Die afsterwing van kokerbome in Namibië en die noordwestelike deel van die Noord-Kaap korreleer met temperatuur- en waterbalansmetings, asook droogte-indekse, by verskillende weerstasies in dié gebiede.

"Dit beteken nie noodwendig dat kokerbome besig is om uit te sterf nie, maar dat die gebied waarbinne hulle groei, kleiner word, of dat ander gebiede meer geskik word vir kokerbome."

Elkeen se rekords kan help
Reënvalsyfers wat oor jare heen op plase landwyd versamel is en jarelange waarnemings oor voëls, plante en insekte is alles inligting wat klimaatnavorsers in 'n verskeidenheid dissiplines kan help om klimaatveranderinge in verskillende dele van die land te verstaan, sê dr. Guy Midgley, spesialis-wetenskaplike by die SA Nasionale Biodiversiteitsinstituut in Kaapstad.

"Ons wil graag toegang kry tot verskillende vorme van natuurgeskiedenis. As daar mense is wat inligting het, en nie seker is of dit in die regte formaat is nie, kan hulle ons gerus nader om hulp te vra."

Mense wat graag hul data tot bestaande inligting oor klimaatverandering wil voeg, kan Sanbi se webruimte by www.sanbi.org besoek, of e-pos stuur aan Midgley by midgley@sanbi.org.

30 Junie 2006