Landbou
Reënval só voor planttyd bepaal
HUGO LOCHNER

Die bekendmaking van akkurate projeksies van die totale reënval en die verspreiding daarvan in die reën-tyd vóór planttyd is nie meer net 'n droom nie. 'n Nuwe metode om die reënval vóór planttyd reg te projekteer, is deur 'n afgetrede chemikus ontwikkel.

Dit is einde September, net voor planttyd in die somerreëngebied. Voor die mielieboere 'n pit in die grond sit, kyk hulle eers na betreklik akkurate reënvalprojeksies vir die komende reëntyd van begin Oktober tot einde Maart. Hulle kan sien of dit 'n nat of 'n droë jaar gaan wees, hoe die reën min of meer gedurende planttyd gaan val en of daar 'n midsomerdroogte kom.

Klink dit vergesog? Nie as 'n mens na mnre. Nicol Maas en Frans Marais luister nie. Hulle sê hulle het 'n metode ontwikkel waarvolgens die reënval vir die komende planttyd reeds voor die tyd akkuraat bereken kan word.

Dink net wat 'n boer kan doen as hy voor planttyd weet hoeveel reën gaan val gedurende die plant- en groeityd van sy gewasse. Hy sal beter kan beplan en sy hulpbronne gevolglik beter kan benut, laer risiko's hê, groter oeste en ook hoër winste kry, sê Maas.

Al hierdie voordele kan binne 'n paar jaar vir alle saaiboere in Suid-Afrika 'n werklikheid word as hulle hul metode om reënval te projekteer verder verfyn sodat reënvalprojeksies vir elke streek in die land reeds voor saaityd gedoen kan word. Die reënval kan nou al in twee streke 90 % akkuraat (9 uit 10 jaar) voor planttyd geprojekteer word. En dit kan tot 100 % of byna 100 % verhoog word as meer streke se data verwerk word, sê Maas, 'n afgetrede chemikus en sakeman wat die nuwe metode ontwikkel het.

Maas fokus sedert 1998 op die ontleding van die reënvalstatistiek in twee streke, naamlik Graafwater in die winterreënstreek en Potchefstroom in die somerreënstreek. Graafwater se reënvalstatistiek is sedert 1925 beskikbaar en dié van Potchefstroom van 1915 af.

Ná die ontwikkeling van sy metode projekteer hy reeds sedert 2000 die reënval in Graafwater en daarna in albei streke. Dit het tot dusver in albei streke aan die verwagtinge voldoen. Só kon hy die swak reën-val in 2004 en 2005 en die goeie reënval vanjaar by Graafwater akkuraat voorspel. Ook die nat weer einde verlede jaar en begin vanjaar in die somerreëngebied.

Maas sê hoewel die tegnieke wat gebruik word om die reënval in die somerreëngebied te projekteer, van dié vir die winterreënstreek verskil, speel die "aanloopreënval", dit wil sê die reënval tot voor planttyd, 'n groot rol in die projeksies in albei streke.

"Om akkuraat te projekteer hoe die reën-val gedurende die plant- en groeityd gaan verloop, moet die "reënval-paaie" tot net voor planttyd (einde September vir die somerreënstreek) figuurlik gevolg word. Hierdie "paaie" bepaal die pad wat die reën ná saaityd gaan volg.

Maas sê hy het die reënvalaantekeninge van byna 100 jaar gebruik en toe gekyk of hy kan bepaal wat goeie en swak reënvaljare veroorsaak. Hy het gesien dat die "aanloopreënval" in baie jare 'n goeie aanduiding gee van die verloop van die reënval in die plant- en groeityd. Deur nét na die "aanloopreënval" te kyk, kon hy die reënval vir Potchefstroom die afgelope vier jaar akkuraat projekteer.

Buiten die reënvalpaaie is daar ook ander bewyse vir die verloop van die reënval in die volgende reëntyd, soos die kombinasies van agtereenvolgende jare se reënval.

Daar is byvoorbeeld geloofwaardige bewyse dat 'n jaar wat op twee sekere agtereenvolgende reënpatrone volg, sonder twyfel 'n droogte in blomtyd sal ondervind en wat die oes sal knou.

Hy het die beginsel van aanloopreënval gekategoriseer en die norme wat hy gebruik om dit te doen, gepatenteer. So seker is hy van die geloofwaardigheid van dié metode dat hy dit nou teen 'n groot koste ook in ongeveer 20 ander lande patenteer. (Die internasionale patentnommer is PCT/IB2004/002881.)

Maas sê reënvalprojeksies is plek- of streekspesifiek, daarom moet die insameling van reënvalinligting en projeksiemetodes vir elke streek ontwikkel word. Hoewel daar oorvleuelings gaan wees tussen streke na aan mekaar, kan nie veralgemeen word nie. Hoe meer streke se reënvalinligting akkuraat verwerk is, hoe akkurater sal die projeksies vir 'n sekere gebied wees.

Marais, ook 'n afgetrede wetenskaplike, sê die raak projektering van die verspreidingspatroon van die verwagte reënval voor planttyd, soos wat met hierdie metode moontlik is, hou verreikende gevolge vir die landbou in.

Dink net wat die geldelike voordeel vir die bedryf kan wees as boere vanweë die beter beplanning wat met die projeksies moontlik is, hul uitgawes met 10 % kan verminder en hul inkomste met net 10 % kan verhoog.

Tans saai boere blindweg en hoop vir 'n goeie jaar omdat daar in sewe uit tien jaar 'n kans vir 'n goeie reënjaar is. Omdat hy nie weet watter jare die drie droë jare gaan wees nie, moet hy konserwatief wees. Omdat hy konserwatief is, kan hy dikwels nie in die sewe jaar genoeg geld maak om op te maak vir die drie droë jare se verliese nie.

Dié situasie kan nou verander omdat nou in nege uit tien jaar akkuraat geprojekteer kan word of dit 'n goeie of swak jaar gaan wees. Dit stel die boer in staat om elke jaar, selfs die droë jare en veral in die jare met swak reënvalverspreiding, die beste moontlike wins te maak.

Dit is moontlik omdat hy planttyd en selfs die plantdigtheid en kunsmistoediening by die geprojekteerde reënvalpatroon en die totale reënval kan aanpas. Hy kan selfs besluit om 'n ander gewas te plant as die risiko vir die verbouing van mielies te hoog is.

Boere sal dus graan goedkoper kan produseer, die beste moontlike opbrengste in goeie jare kan afhaal, insekte en plae beter kan bestuur en risiko's kan verminder.

Data noodsaaklik
Die navorsing wat sedert 1998 by Graafwater en Potchefstroom gedoen is, het gewys dat dieselfde metodes gebruik kan word om die reënval vir die twee uiteenlopende streke te projekteer. Tog kan 'n streek se reënval net akkuraat geprojekteer word as betroubare reënvaldata oor 'n lang tyd beskikbaar is.

Mnr. Nicol Maas sê die beskikbaarheid en bewaring van Suid-Afrika se reënvalstatistiek is een van sy grootste bekommernisse. Die Landbounavorsingsraad het baie reënvalstatistiek, maar daar is gapings wat ingevul moet word. As iets met dié aantekeninge gebeur, sal dit 'n ramp wees.

Hy weet ook dat hy en mnr. Frans Marais nie die hele land se projeksies kan doen nie. Hy sal moet hulp kry om al die inligting bymekaar te maak en daarna sal net 'n klein organisasie nodig wees om die reënval en die verspreiding daarvan te projekteer. Iemand sal ook die projek moet finansier.

Hy het nou 'n 100 % kans om die reënvalneigings in nege uit tien jaar individueel akkuraat te projekteer. As die norme verder verfyn kan word en meer streke se inligting verwerk word, behoort die projeksies in alle jare feitlik 100 % reg gedoen te kan word. Jare met 'n droogtekomponent kan altyd reg geprojekteer word.

Slegte nuus vir Potch
In die jongste reënvalprojeksies vir Potchefstroom is daar geen tekens wat op 'n algehele lae reënval vir Oktober 2006 tot Maart 2007 dui nie. Tog wys dit dat 'n swak verspreiding van reën in die 2006/07-groeityd kan lei tot ongunstige toestande vir mielieverbouing, sê mnr. Nicol Maas.

Tipies van die reënval soos wat vir die komende seisoen vir Potchefstroom geprojekteer word, is swak reënval in Januarie wat saamval met swak reënval óf in Desember óf Februarie. Dit gebeur meer dikwels dat 'n swak Februarie 'n swak Januarie in só 'n projeksie volg.

Dit beteken twee agtereenvolgende maande met 'n swak reënval reg in die middel van die groeityd. Die reënval wat vir dié twee maande verwag word, is net minder of meer as die helfte van die gesamentlike gemiddelde reënval op lang termyn. Dit dui op ongunstige toestande vir mielieproduksie, sê Maas.

Hierdie projeksie is 'n resep vir 'n swak mielie-oes of selfs 'n totale misoes, omdat dit min ruimte laat om skade te vermy met 'n goeie berekening van die planttyd.

Na gelang van die verloop van die reënval, byvoorbeeld as 'n nat November (soos in vanjaar se projeksies) met aanduidings van 'n nat Desember opgevolg word, kan 'n boer dit waag om laat of later in Desember te plant omdat reënval in Maart met hierdie neiging besonder hoog kan wees.

"Ek beveel dit nie aan nie, maar dit is iets wat soms kan werk en die boer moet self daaroor besluit. As die plant van mielies te gewaag is, kan sonneblomme of ander graangewasse met 'n kort groeityd werk.

Die reënvaldata wat vir hierdie projeksie verwerk is, kom van die reënvalmetings op die Landbounavorsingsraad se perseel op Potchefstroom. Die gebied wat deur hierdie projeksie gedek word, word beperk tot 'n radius van ongeveer 30 kilometer vanaf hierdie perseel.

Mnr. Frans Marais sê: "Met só 'n projeksie besef 'n mens watter implikasies dit vir die boer en die landbou kan inhou. As die projeksie reg sou uitwerk en die boer neem in ag wat die uitwerking vir hom sou wees met die moontlikheid van 'n misoes, kan hy uiteindelik sekerlik finansieel baie beter daaraan toe wees as wanneer hy nie die voorafkennis gehad het nie.

"Persoonlik hou ek vol dat die ekonomiese waarde van hierdie projeksies vir die landbou verreikend is."

Die feit dat die projeksie "slegte nuus" is, laat die besef ontstaan dat as die projeksies vir die omliggende gebiede ook beskikbaar sou wees, 'n mens hierdie projeksies met groter gerustheid bekend kon maak. Dubbele bevestiging deur kruiskorrelasies tussen streke is noodsaaklik. Dit kan alleen verkry word deur 'n volwaardige projeksiediens daar te stel.

Landbouweekblad, 13 Oktober 2006