
Suid-Afrikaanse boere is twee jaar gelede in Landbouweekblad gewaarsku dat rampdroogtes wel nog kan voorkom. In hierdie artikel word 'n terugskouing op die 2006/'07-produksiejaar gegee en word gekyk of dit droër was as in 1991/'92.
Somergraanopbrengste, veral mielie-opbrengste, het die afgelope dekade of twee dramatiese gestyg. Misoeste weens droogte het selde voorgekom. In 1991/'92 en in 'n mindere mate in 1994/'95 het swak oeste wel voorgekom, maar sedert 1995 was mielie-misoeste weens droogte byna ongekend.
Die indruk het begin ontstaan dat droogtes bestuur kan word en dat droogteskade iets van die verlede is. Goeie bewerkings- en bewaringspraktyke, beter plantteelmateriaal, optimale bemesting en goeie bestuur het die uitwerking van droogtes laat verminder.
Die afgelope produksiejaar het egter bewys dat droogte steeds 'n faktor is, nieteenstaande goeie aanvangsvogtoestande en verbeterde bestuurs- en ander praktyke. Droogte kon wel in 'n mate bestuur word, mits daar aan sekere voorwaardes ten opsigte van veral grond voldoen kon word. Maar niks kan byna totaal afwesige reën en gepaardgaande hitte, soos wat in 2006/'07 die geval was, oorkom nie.
Die twee droogste mieliegroeitye (Januarie tot Maart) in die laaste paar dekades was in 2007 en 1992. Die verskillende provinsies se gemiddelde reënval in dié deurslaggewende maande vanjaar was ver onder die gemiddelde op lang termyn, selfs vergeleke met die ooreenstemmende tyd in 1992.
Veral in die drie vernaamste mielieproduserende provinsies, naamlik Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwes, was die reënval vanjaar uiters swak in hierdie drie maande. Mpumalanga het byvoorbeeld 'n totaal van gemiddeld 105 mm reën gehad, teenoor 176 mm in 1992 en die langtermyngemiddelde van 324 mm.
Vanjaar se reënval het van Januarie tot Maart in elke provinsie van die gemiddelde op lang termyn afgewyk. In die land as geheel was die reënval in hierdie tyd ongeveer 58 % onder die gemiddelde, teenoor 47 % onder die gemiddelde in 1992.
In die Vrystaat was die reënval van Januarie tot Maart vanjaar 67 % onder die gemiddele, terwyl dit in 1992 61 % onder die gemiddelde was. In Noordwes was die reënval vanjaar 74 % onder die gemiddelde, teenoor 64 % onder die gemiddelde in 1992. In Mpumalanga het dit 68 % minder as gewoonlik gereën, teenoor 46 % minder in 1992.
Slegs in die Oos- en Wes-Kaap was die afwyking in 1992 groter as wat dit vanjaar was.
Vanjaar het die oostelike provinsies, soos Mpumalanga en KwaZulu-Natal, ook in hierdie drie maande ekstreme afwykings gehad het. Dit wys dat vanjaar se swak reënval nie net aan die uitwerking van El Niño toegeskryf kan word nie. Tradisioneel het El Niño 'n minder nadelige uitwerking in die oostelike gebiede. Wat ook 'n invloed gehad het, is dat die Indiese Oseaan verwarm het en dat tropiese siklone daarom nader as gewoonlik aan Afrika se kus ontstaan het.
Die kaarte (op bl. 4) wat die geografiese verspreiding van die droër en natter gebiede in die mielieproduserende gebiede (in die swart blok) toon, wys ook dat daar groot verskille tussen vanjaar en 1992 was. Van Januarie tot Maart vanjaar het veral die westelike dele van Mpumalanga baie minder reën gehad as in die ooreenstemmende tyd in 1992. In Noordwes, veral in die gebied om en suid van Lichtenburg, het dit vanjaar heelwat minder gereën as in 1992.
Dit het vanjaar heelwat meer kol-kol gereën as in 1992. Vanjaar was daar gebiede in die Noordoos-Vrystaat wat taamlik goeie neerslae gehad het, terwyl daar uiters droë kolle elders was. In 1992 was die droë toestande taamlik eenvormig in die westelike helfte van die mieliegebied, met taamlik goeie toestande in die oostelike helfte.
Bestuur nie maklik
Droogteskade het vanjaar op 'n taamlik groot skaal voorgekom in gebiede waar daar uiters min reën geval het, soos om Lichtenburg en Bothaville. Minder as 50 mm reën in die eerste drie maande van die jaar - dikwels as ondoeltreffende, ligte neerslae - het byna geen bydrae tot die grondvog gelewer nie.
Die mielies was dus in vele gebiede vir meer as drie maande lank uitsluitlik van die opgegaarde water in die grond vir oorlewing afhanklik.
Dit bring 'n mens by droogtebestuur. Die enigste bestuurspraktyk wat werklik die uitwerking van droogtes kan teenwerk, is die opgaar van grondvog. Vir mielies om drie maande lank sonder reën te kan oorleef en selfs te kan produseer, word meer as 250 mm water benodig. Daar is min grond wat soveel water kan opberg.
Met genoeg water in die grond om taamlik ernstige droogtes te kan oorleef, loop die boer egter die risiko om in jare met beter reënval ernstige versuipskade by sy graangewasse te kry. Dit is juis die geval met die sogenaamde watertafelgrond van die Vrystaat en sommige dele van Noordwes, waar té nat toestande op lang termyn soms meer skade as té droë toestande veroorsaak.
Droogtes kan dus in 'n mate deur die manipulasie en bestuur van grondvogtoestande beheer word, maar dit kan weer ander boerderyrisiko' vergroot. In 2006/'07 het goeie oordragvog wel 'n reuse-bydrae tot die totale Suid-Afrikaanse mielie-oes gelewer. Daarsonder kon die oes afkomstig van mielies op droëland dalk minder as die helfte gewees het van wat tans verwag word.
Tradisioneel is later as normale plantdatums 'n beter opsie tydens El Niño-jare. Vanjaar het mielies wat buitengewoon vroeg geplant is, egter beter gevaar omdat warmer seetemperature in die Indiese Oseaan en die gevolglike reeks tropiese siklone die tipiese uitwerking van El Niño onderdruk het. Gewoonlik is daar tydens 'n tipiese El Niño-jaar taamlik normale reënval rondom Februarie, wat nie vanjaar die geval was nie.
Grondvog 2007/'08 se troefkaart
Dit lyk of die reënvalsituasie in die 2007/'08-produksiejaar die teenoorgestelde van dié in die afgelope produksiejaar gaan wees. Teen Augustus vanjaar behoort 'n matige La Niña (koeler as normale seetemperature in die sentrale Stille Oseaan) gevestig te wees teenoor 'n matige El Niño in 2006/'07.
Hierdie verskynsel behoort tot minstens volgende herfs 'n invloed op Suid-Afrika se weer te hê. Die 2007/'08-produksiejaar gaan met baie min grondvog begin, in teenstelling met die goeie begin van 2006/'07. Die reënvaltoestande in die mid- tot laat somer behoort egter heelwat beter te wees as in die afgelope produksiejaar.
Die kans vir verdere winter- en lentereën lyk gemiddeld tot ondergemiddeld teenoor die bogemiddelde reënval in die vorige jaar, wat goeie koringoeste tot gevolg gehad het.
Daar is egter een of twee faktore wat die situasie deurmekaar kan krap. Die uitwerking van die see-oppervlaktemperatuur in veral die westelike Indiese Oseaan (nader aan die Afrika-kus) kan dikwels die invloed van El Niño of La Niña oorheers. Die voorspelling van die verandering in hierdie temperatuur is nie baie betroubaar nie en dit kan, soos in 2006/'07, 'n nadelige uitwerking op die reënval hê.
Die min grondvog hou 'n groot gevaar in as daar iets met die klimaat sou verkeerd loop. Graanboere moet dus die ontwikkelinge ten opsigte van die see-temperatuur en verwagte reënval dophou en probeer om 'n goue middeweg te vind wat die hoeveelheid grondvog betref.
Onthou, dit sal nie vir altyd droog bly nie. Byna die enigste feit in die wetenskap van klimaatvooruitskouings is dat nog elke droogte deur reën gebreek is.
Landbouweekblad, 13 Julie 2007