Reën het in die jongste verlede oor 'n groot deel van Suid-Afrika geval en vir talle boere laat dit die vooruitsigte onmiddellik beter lyk. Tog is daar streke waar die droogte voortduur. In die binneland van die Oos-Kaap kos dit boere tot R2 000 per dag om hul vee aan die lewe te hou.
Mnr. Div du Plessis, bestuurder van die Oos-Kaap Koöperasie op Elliot, sê dit het in die distrikte Barkly-Oos en Lady Grey tot 25 mm gereën, maar in gebiede wat die vorige week onder wegholbrande deurgeloop het, het minder as 3 mm geval. "Die situasie is besig om kritiek te word. Ten spyte van die tekort aan veevoer en lekke het ons omset vanjaar reeds met 52 % toegeneem. Boere is desperaat om hul ooie wat lam en beeste wat kalf aan die lewe te hou in die hoop dat dit binnekort sal reën."
Du Plessis sê boere wat mielies plant, sou reeds hul landerye bewerk het, maar die koöperasie het vanjaar nog nie 'n pit saadmielies verkoop nie. "Die pryse van bulle op die veilings wat die afgelope twee weke in die omgewing gehou is, was ook merkbaar laer as vorige jare." Me. Lynn Minnaar van Groenvlei, Graaff-Reinet, sê in die omgewing van Nieu-Bethesda het tot 30 mm geval, maar op hul plaas het geen reën geval nie.
Volgens mnr. Thabo van Rooyen, 'n bestuurslid van die NWKV wat by Aberdeen boer, vergelyk die huidige toestand met die rampdroogte van 1991/'92. "Die enigste verskil is dat die prys van wol, bokhaar en skaapvleis darem nou baie beter is as destyds. Dit is dus lonend om vee vet te maak en dan te verkoop."
Op sy plaas het sowat 25 mm geval, maar dit bly "droewig droog" by Willowmore, Rietbron, Jansenville en suid van Graaff-Reinet. Angorabokboere wie se ooie lam, meld tot 80 % verliese aan. Dit is veral wild, soos springbokke en koedoes, wat die ergste geraak word.
Van Rooyen sê boere gaan nog "vuis slaan" om voer by hul koöperasies in die hande te kry. Reën is ook dringend nodig vir koringboere in die Wes- en Suid-Kaap. Tot middel Augustus het die oes in 'n groot deel van dié gebied nog bogemiddeld gelyk, maar nou is die situasie kritiek - veral in die oostelike deel van die Suid-Kaap.
Volgens mnr. Joos Badenhorst van Middeldrif op die Napkyvlakte het 'n derde van die koring doodgebrand. Vir die res van die koring wat nog groen is of besig is om ryp te word, kan reën dalk help.
"Reën gaan help, maar dit gaan nie die oes red nie. Die gars is rypgebrand en hoewel reën nou dalk kan help om die pitte vet te maak, sal die moutgehalte nie goed wees nie." Badenhorst sê die laaste goeie reën wat boere in dié produksiegebied gekry het, was in Julie. In Augustus en September het hulle maar enkele millimeter gehad. By sy graan bring dit 'n potensiële oes van 2 ton per hektaar af tot 1,3 ton per hektaar. Die kanola wat eerste geplant is, lyk volgens hom die beste van die gesaaides.
Die toestand van graan het eintlik nou 'n onsekere tyd betree, sê mnr. Johan Lusse, landbou-adviseur by Overberg Agri op Caledon. As dit koel bly en vroeg in Oktober reën, sal die skade dalk nie so erg wees nie.
Volgens mnr. Leon Groenewald van Riviersonderend is dit nog nie duidelik wat die gevolge van die laatseisoendroogte gaan wees nie. "Dit verskil van gebied tot gebied. Die westekant van Riviersonderend hou gewoonlik 'n bietjie beter, maar die gars se baard brand wit - 'n teken dat dit droog is."
Mnr. Schalk Viljoen van Riviersonderend sê die laaste goeie reën op sy plaas was 75 mm einde Julie. Vroeg in Augustus het hy 8 mm en teen die einde van die maand 10 mm gekry. In September het dit net 12 mm gereën. Die goeie neerslag in Julie het baie gehelp, maar die meeste koring het nou reën nodig.
Die graan in die Swartland het nou minstens 25 mm nodig, sê mnr. Attie Haasbroek, landbou-adviseur by Kaap Agri op Porterville. Hy sê vir die koring wat voor 15 Mei van die Bergrivier af noord geplant en reeds in gevorderde groeistadium is, is dit dalk nie so kritiek nie, maar in ander dele is daar talle aanplantings wat net klaar geblom het, waar hitte en droogte nog groot skade kan aanrig.
Die laaste noemenswaardige reën in die Swartland was vroeg in September, toe 14 mm in die omgewing van Porterville en tot 25 mm reën by Malmesbury gemeet is.
5 Oktober 2007