Landbou
Plaas pypkan droogte
Deur LUCILLE BOTHA

Klimaatsverandering het reeds in sekere dele van die land sy droë tentakels uitgesteek - en verstewig algaande die wurggreep op boerderye. Op 'n Bolandse vrugteplaas is planne gemaak om met baie minder water klaar te kom.

Sowat 15 jaar gelede het die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) in 'n ondersoek bevind dat die Witzenbergvallei, naby Ceres, tóé ryk aan grondwater was. Vandag sien die situasie egter anders daar uit en ondervind boere 'n skaarste aan water.

Wat het intussen verander?

Volgens mnr. Deon van Zyl, bestuurder op Vastrap, een van die Du Toit Groep se plase by Ceres, was 2004 en 2005 abnormaal droë jare. Hy het op die onlangse tegniese simposium van die Kaapse Pomologiese Vereniging gesê hulle het in 2004 net 650 mm reën gekry teenoor die gemiddelde van 1 000 mm per jaar.

"Die boorgate was totaal uitgeput. Daar was net sowat 1 870 m³ water per hektaar beskikbaar ná die winterreën en ons moes 'n vrugte-oes grootmaak."

Van Zyl-hulle moes 'n plan maak om met hierdie voorraad water oor die weg te kom. Hulle het bereken presies hoeveel water hulle beskikbaar gehad het en boorgate se bydraes is weekliks gemeet. Daar is besluit watter vrugtekultivars die belangrikste is en elke kultivar is net besproei tot hulle begin oes het. Die bome se vruglading is ook verminder. Geen water was meer be-skikbaar vir tuinmaak nie. Die situasie is aan alle betrokkenes verduidelik sodat hulle kon help met die besparing.

Van die besparingsmaatreëls was om: die grond in die boorde sover moontlik met 'n deklaag te bedek; wye-radius-mikro-spuite met kort-afstand-spuite te vervang; die besproeiingsiklus te verkort; en om seker te maak daar is geen afloopwater nie.

Met die noukeurige beplanning was dit vir hulle moontlik om net 200 liter water per week toe te dien. Daardie jaar het hulle net 3 000 m³ water gebruik teenoor die 7 000 m³ tot 8 000 m³ waaraan hulle gewoond was.

In 2005 was die situasie nie meer rooskleurig nie.

"Die damme het effens meer water in gehad (83%) en die reënval was so 100 mm meer (735 mm). Die boorgate was steeds laag, en dit was nie eens die moeite werd om daarna te kyk vir hulp nie, want dit was nie genoegsaam aangevul nie.

"Ons het weer gaan sit en 'n som gemaak. Die een Neutron-vogmeter het nie vir ons 'n werklike prentjie gegee van wat in die grondprofiel aangaan nie."

Van Zyl het by die groente-vertakking van die boerdery gaan aanklop en hul tensiometers (vogspanningsmeters) bekom. Dié het hy aangepas deur dit af te saag, 'n koppelstuk bo aan te heg en 'n vakuum-meter aan te sit. "Die hele plaas is gekarteer en die boorde en grondtipes gegroepeer. Ons het 30 meetpunte op die plaas. Die meetpunte is só geplaas om die "regte goed" te meet. By elke punt is 'n tensiometer."

Só kon hulle dadelik agterkom as daar 'n afwyking was. Aanpassings - soos om water by 'n ander boord te "steel" - kon betyds gemaak word.

Van Zyl-hulle het ook besluit om sowat 65 ha oor te skakel na drupbesproeiing.

"Met drup moet jy meet om te weet. Daarom het elke blok 'n tensiometer gekry en ons het vier keer per dag gemeet. Die besproeiing gaan gepaard met pulse. Die duur van 'n puls word bepaal deur die reaksie van die meter, maar dit wissel tussen 20 en 30 minute. In die hoogsomer het ons hoogstens vyf pulse per dag gegee, maar in 'n hittegolf het ons eerder meer pulse gegee as om die pulse langer te laat duur."

Van Zyl sê dit is maklik om 'n vrugteboom te laat versuip of te laat stres deur verkeerde hoeveelhede water toe te dien. Met hul besproeiingsplan het hulle gepoog om buite die spanningsmoontlikhede van die plant te bly.

"Die essensiële ding is 'n graaf: Grawe in die seisoen gereeld tussen die bome se wortels sodat jy presies weet wat gaan aan," sê Van Zyl.

Die bedekking van die grond in die boorde het 'n nuwe era op die plaas ingelui. Die bedekking kan met strooi (wat sowat twee jaar lank hou) of houtskyfies (wat duurder is, maar langer hou) gedoen word. Deesdae word alle ou bome wat vervang word, versnipper en as bedekking gebruik.

"Dit was nie moontlik om gelyktydig al die grond in die boorde te bedek nie. So, ons doen dit stelselmatig soos daar geld is."

"Die afgelope paar seisoene was ons waterverbruik minder as 1 000 m³ per hektaar." Verlede jaar het hulle genoeg water gehad, maar besluit om by die waterstrategie te hou.

Van Zyl skryf die sukses van hul plan daaraan toe dat hulle dit aan een mens opgedra het om die meetwerk te doen. "Hy't dit sy passie gemaak. As iets afwyk van die gewone, het hy 'n gat gegrawe en die hele bestuurspan kon gaan ondersoek instel."

Hy beklemtoon dis belangrik om die besproeiingstelsel gereeld te diens en seker te maak daar is geen vermorsing nie.

Landbouweekblad, 11 Januarie 2008