Landbou
Pas aan by aardverwarming
Deur JOHAN COETSEE

Aardverwarming hou verskeie implikasies vir die landbou en die sagtevrugtebedryf landwyd in. Landbou-klimaatsones wat drasties skuif, meer hitte en droogtestres en verminderende grondvrugbaarheid is maar enkeles.

Prof. Stephanie Midgley van die Universiteit Stellenbosch het op die SA Plantverbeteringsorganisasie (Sapo) se inligtingsdag of Stellenbosch gesê alles is egter nie net slegte nuus nie. Daar is reeds verskeie aanpassings in kultivars aangebring wat in 'n veranderende klimaat steeds doeltreffend sal produseer.

Wat ook nou met die geleidelike aardverwarming moet aandag kry, is die veranderende kouebehoeftes van gewasse, soos appels. Dit stel uitdagings, soos om nuwe onderstamme en kultivars bekend te stel wat aangepas is om deur 'n Hoër kouebehoefte te veg. Die kultivars moet vroeër geoes kan word, groter waterstres-weerstand bied asook 'n groter sonbrandweerstand.

Wees bedag

Midgley waarsku dat boere bedag moet wees op 'n warmer klimaat en betyds aanpassings moet maak om winsgewend te bly. Selfs 'n verhitting van net twee grade Celsius gaan 'n groot uitwerking op die produksie van vrugte en ander gewasse hê. Daarom sal in die toekoms gekyk moet word na 'n groter verskeidenheid kultivars (plaaslik en ingevoer) en die bewaring van grondvrugbaarheid.

Sy sê modelle wat gebruik word om neigings in die verandering van die klimaat mee te voorspel, blyk dit dat reënval in Suid-Afrika tot omstreeks 2040 redelik normaal tot goed kan bly, maar dat droër tye daarna (vanaf 2050 tot 2080) kan volg.

In die laaste 10 000 jaar was daar waarskynlik min of glad nie so 'n warm tyd soos tans op aarde nie. In die laaste 30 jaar is 'n warmer neiging in die westelike, noordelike en suidelike deel van die land skynbaar aan die gang, terwyl erge ryptoestande in die sentrale deel van die land verminder. Oor sekere dele van die land het in die tydperk ook tye van kwaai reënval voorgekom.

Landbouweekblad, 16 Mei 2008