Wenke van lekkende sementdamme tot nageboortes wat vassit.
Maagmoeilikheid by beeste
1 Asynbottel, skoon uitgewas. Daarin word helfte lynolie en helfte melk deurmekaar gegooi. Skud goed tot een tekstuur. Gee vir bees regstreeks uit bottel.
Mev. S. Badenhorst, Pretoria.
As nageboorte vassit
Gee sewe hoendereiers met doppe vir die koei in. Maak die bek oop en gooi die heel eiers, met verdrag, in die bek in. Die koei vreet die eiers maklik en ek waarborg dat die nageboorte binne 36 uur sal afkom. Die koors kom ook af en koei herstel algeheel.
J. Botha, Fauresmith
Sementdamme en krippe wat lek
Neem sterk soutoplossing en voeg droë sement by tot slap oplossing en werk dit in barste in asook vir uitwit van dam of krip. Nie sinkdamme of ysterkrippe nie, dit sal oproes.
Ouvrou se raat
Melkkoors
Melkkoors by 'n koei wat pas gekalwe het, kom baie voor by Jersey-beeste. Melk haar vir 3 dae 'n bietjie uit. Gee die melk vir haar. Sy sal dit uitdrink. Laat die kalfie maar suip aan sy moeder. Na 3 dae kan sy gemelk word vir gebruik maar sodra sy siek is en gaan lê, gee vir haar 1 hoogvol eetlepel sout op 1 bottel kookwater. Die water moet sterk warm wees, of 1 bottel harlemensies. As daar nie beterskap is nie, moet sy 'n kalkinspuiting kry.
Mev. J.C, Walters, Vredenburg
Milt- en sponssiekte
Tydelike beheer van miltsiekte en sponssiekte: Gee groot beeste 'n eetlepelvol Kerol in en kalwers 'n dessertlepel vol. Dit sal vrekte minstens vir 'n paar dae stuit.
D.A. Swart, Lydenburg
Lamskok
As ooi gelam het en nie haar lam wil laat suip nie, ly sy aan lamskok. Gee die ooi 'n dubbel-dop brandewyn in en plaas haar in 'n hokkie saam met die lam. Laat die lam aan haar suip. Sy ontspan mettertyd en aanvaar die lam. Die brandewyn het dieselfde effek as die kalmeer-inspuiting wat by varke gebruik word.
Eddie Smith, Schweizer-Reneke.
Misgeboorte by koei
½ bottel roulynolie, 1 x 50 ml. Lewensessens (in die outyd was dit die groot bottel), 4 onse terpentyn, 1 botteltjie haarlemensies.
Gooi alles in groot bottel, skud goed en gee in.
Mev. C.C. Badenhorst, Harrismith.
Knoffel- en heuningkrag
Diere wat baie maer is of deur siekte agteruit is, kan opgekikker word deur 'n oplossing van knoffelsap en heuning in water, twee keer per dag. (Die Britse veearts James Herriot skryf ook hieroor.)
Wanneer die dier op bogemelde begin reageer, help dit in die reël om 'n eier, met dop en al, en 'n eierkelkie egte roulynolie liefs in die meelkos te meng, twee tot drie keer per week. Sorg moet gedra word dat die kosbakke skoon gehou word.
Heuning kan ook voordelig op brandwonde aangewend word.
G.W. van Niekerk, Merriman.
17 Junie 2004
Instuur van wenke
As jy graag wenke wil indien, stuur 'n e-pos aan: webred@landbou.com, of klik hier.