Nog 'n aantal praktiese wenke wat wérk!
Bosluiskoors by honde
Spuit hond met Terramycin onder nekvel of in spier. Hoeveelheid afhangende die hond se gewig.
Gee ook 'n antibiotika saam.
Fanie Ekkerd, Bloemfontein
Bloutong by skape
Plaas skaap met bloutong eenkant in 'n hok. Gee soggens 12 tot 14 aspiriene-pille in om die koors te breek. Hou vol vir 'n paar dae. Tot 99 % van die skape kom deur met dié behandeling.
Eddie Smith, Schweizer-Reneke
Bloutong
Sodra 'n mens opmerk dat 'n skaap se tong/bek opgeswel is, kry die skaap dadelik in 'n donker vertrek of pakkamer. Los twee disprins in 'n groot eetlepel spiritus op en gooi die mengsel in die skaap se keel af. Die skaap moet vir so dag of twee nie aan sonlig blootgestel word nie en moet vars drinkwater kry, sommer in 'n bak.
T. Botha, Ugie
Pofadder-pik
Vir beeste wat deur pofadder gepik is. Gebruik 20 cc petrol in 'n spuitnaald en spuit in 'n kring om die bytplek in. Nie eens 'n vrot plekkie bly in die bees oor nie.
Eddie Smith, Schweizer-Reneke
Misgeboorte by koeie
Halwe bottel roulynolie, 1 x 50 ml. Lewensessens (outyd was dit die groot bottel), 4 onse terpentyn, 1 botteltjie haarlemensies. Gooi alles in groot bottel, skud goed en gee in.
Mev. C.C. Badenhorst, Harrismith
Knoop in die derm by skape
Neem voorste lood van 'n patroon, bedek met watte en vaselien en gee in. Die lood druk die inmekaargetrekte derm weer uit.
Mev. C.C. Badenhorst, Harrismith
Siek diere
As jou diere siekerig lyk en nie wil eet nie, gee vir hulle 'n mengsel van blousel en turlington, gemeng met melk, in. Hulle is sommer gou weer springlewendig.
Ria Tribelhorn (tribelaj@eskom.co.za)
Plastiek ingesluk
As diere plastiek of gif ingekry het, maak mengsel aan van Surf-waspoeier met water en gooi in keel af. Die dier sal daarvan opbring.
Ria Tribelhorn (tribelaj@eskom.co.za)
22 Junie 2004
Instuur van wenke
As jy graag wenke wil indien, stuur 'n e-pos aan: webred@landbou.com, of klik hier.