Landbou
Praktiese wenke wat werk (7)


Wenke teen die opbou van weerstand by onkruid, raat teen molle en hulp om lammers groot te maak.

Ontsmet melkstal goedkoop
'n Halwe koppie ammoniak, 'n derde koppie asyn en twee eetlepels bakpoeier vir elke vyf liter water. Glo my, dit werk uitstekend, indien nie beter as duur skoonmaakmiddels nie.
Danie van Rensburg (daniej1@telkomsa.net)

Bloeding
Gooi suiker op die wond om bloeding op wonde te keer. Verkieslik geel- of bruinsuiker.
D.A. Swart, Lydenburg

Molle
Vee molsgat met hand oop en druk 'n oleandertakkie in die gat in. Los die gat oop. Die mol kom om die gat toe te stop en byt dan die takkie, wat baie giftig is, in stukkies om dit by die gat uit te kry. Molle roei hulself so uit.
Gideon Joubert (gideonjoubert@cybertrade.co.za)

Vratte by beeste
Was met kragparaffien.
Mev. J.C, Walters, Vredenburg

Bosluise tussen bokkloutjies
Boerbokke is geneig om bosluise tussen die kloutjies te kry. Meng 2 dele ou motorolie en 1 deel Kerol en smeer met hoenderveer tussen die tone in.
D.A. Swart, Lydenburg

Weerstand teen onkruiddoder
Om voorkomend op te tree om weerstand in die mieliebedryf te voorkom of te vertraag:

  • Dien onkruiddoders korrek volgens die etiket op die houer toe. Moenie koste probeer bespaar nie. Onthou die duurste produk is dié een wat nie gewerk het nie.
  • Mielies se opbrengs kan met 15 % daal as daar gemiddeld drie onkruidplantjies binne 'n omtrek van 300 mm per mielieplant is. Dit kan 'n verlies van R360/ha beteken (bereken teen 'n opbrengs van 3 ton/ha en 'n mielieprys van R800/ton).
    Stephan Venter in Landbouweekblad, 30 Julie 2004

    Milt- en sponssiekte
    Vir tydelike beheer van miltsiekte en sponssiekte. Gee groot beeste 'n eetlepelvol Kerol in en kalwers 'n dessertlepel vol. Dit sal vrekte minstens vir 'n paar dae stuit.
    D.A. Swart, Lydenburg

    Wonde
    Wanneer 'n wond nie wil genees nie, en die vleis rooierig uit die wond groei, ontstaan 'n toestand wat as "proud flesh" (ek ken nie die Afrikaanse woord nie) bekend is. Hierdie toestand reageer baie gunstig op 'n baie ligte bestuiwing met kopersulfaat (blouvitrioel), twee keer per dag vir twee tot drie dae, en dan te was met perskeblaar-ekstrak.
    Ligte snye kan met 'n flou oplossing van kopersulfaat behandel word. By moeilik hanteerbare diere, soos muile, kan die oplossing aangewend word met 'n bossie of takkie deur dit in die oplossing te doop en dan van 'n veilige posisie op die wond te skiet.
    G.W. van Niekerk, Merriman.

    Lammers grootmaak
    Om lammers en varkies groot te maak wat nog nie moederbies gekry het nie. Neem 1 koppie vars melk, teelepel room, 1 eiergeel. Meng goed en gee so twee of drie dae die mengsel en verder skoon melk.
    Mev. J.C, Walters, Vredenburg

    12 Augustus 2004

  • Landbouweekblad aanvaar geen aanspreeklikheid vir aansprake wat in hierdie wenke gemaak word nie.

    Instuur van wenke
    As jy graag wenke wil indien, stuur 'n e-pos aan: webred@landbou.com, of klik hier.