Landbou
Praktiese wenke wat werk (8)


'n Gesukkel met 'n bout sonder 'n kop en 'n bees wat dalk 'n plastieksak ingesluk het, is van die probleme waarmee boere soms worstel. Hier is wenke om en dit te oorbrug.

Bout sonder kop
'n Eenvoudige wenk wat 'n mens baie ergernis kan bespaar, is om 'n bout sonder 'n kop, of 'n stud wat in 'n gat vassit, uit te draai sonder om die skroefdraad te beseer. Draai twee moere op die bout se skroefdraad vas en sluit al twee op mekaar. Draai daarna die stud met behulp van die onderste moer uit. Indien die oppervlakte klein is, kan jy die moere afslyp totdat albei op die knop pas en dan nog steeds voortgaan om die proses uit te voer.
Willem Janse van Rensburg, Moorreesburg

Skoon lyndrade
Gebruik onkruiddoder om lyndrade skoon te hou, aangesien vuur die drade beskadig as digte gras daaraan raak.
Paul Grey, Morgenzon

Higiëne: Naalde en spuite
Naalde en spuite kan slegs gesteriliseer word deur dit vir minstens 15 minute lank te kook. Naalde en spuite sal nie gesteriliseer wees as kookwater daaroor gegooi word nie. Onthou ook dat ontsmettingmiddels nie geskik is vir die sterilisasie van spuite en naalde nie.
Dr. Pamela Hunter (Landbouweekblad, 3 Sept. 2004)

Plastieksak ingesluk?
Wanneer 'n bees of kalf uitteer, bly lê of kort-kort opblaas, het die dier moontlik 'n plastieksak ingesluk. Gee die dier twee liter verslane Coke in. Herhaal die volgende dag. Dit werk! Die Coke verteer die plastieksak.
Mev. C. Viljoen, Bethlehem

Seer spene
Na baie gesukkel met koeie se spene wat bars, snye opdoen en sodoende nie drooggemelk kan word nie, het ons hierdie goeie raad: Meng een liter jodium met een liter gliserien. Smeer met 'n sagte lappie aan die spene ná elke melking. Na die vierde melking is die spene gewoonlik gesond. Dit werk 100 % vir barste en snye aan spene, ons gebruik dit al 20 jaar.
J.D. Burger, Robertson

Warm gloede
Vir mense wat warm gloede kry: Kook twee handevol brandnetels in 'n liter water vir 20 minute lank. Drink dan 'n koppie van die vloeistof, dit hou 'n mens so koel soos 'n komkommer en jy sal ook nie sweet nie. 'n Mens hoef nie die mengsel elke dag te drink nie.
Wilfred Loggenberg, Port Elizabeth

27 September 2004

  • Landbouweekblad aanvaar geen aanspreeklikheid vir aansprake wat in hierdie wenke gemaak word nie.

    Instuur van wenke
    As jy graag wenke wil indien, stuur 'n e-pos aan: webred@landbou.com, of klik hier.