Landbou

Gebruik twee pikkoppe om 'n ysterpaal uit die grond te haal.
Praktiese wenke wat werk (9)


Nuttige wenke om werk op die plaas makliker te maak.

Haal ysterpaal uit
Hoe om 'n ysterpaal met twee pik-koppe uit die grond te haal. Druk eers die opening van die een pik-kop oor die paal wat uitgetrek moet word (Kyk skets). Die opening van die pikkop is mos groter as wat die ysterpaal is. Druk dan die ander pikkop se punt van bo af in die spasie wat oorbly. Die twee pikkoppe behoort dan te sluit. Laastens moet 'n mens, verkieslik met 'n 4 kg-hamer, van onder af opwaarts op die horisontale pik-kop se een punt kap. En siedaar, die paal kom los.
Bertus Esterhuizen (bertus.esterhuizen@za.pwc.com)

Verwyder wiellaer
'n Uitgediende laer kan sonder 'n 'puller' verwyder word: Partykeer het 'n mens nie gereedskap byderhand nie, of die stuk gereedskap waarmee die laer uitgetrek moet word, is te groot. Gebruik koerantpapier of 'n ou Landbouweekblad se geel bladsye wat in repe geskeur word. Week dit in water en forseer die nat papier in die gat in. Gebruik 'n ronde bout of 'n stuk ronde yster en tik die papier met 'n hamer in. Herhaal die proses en voer aanhoudend nog papier in die gat in. Die drukking van agter af sal die laer na sowat 20 minute laat uitspring sonder dat dit beskadig is.
Jan Louwrens, Worcester.

Verseël gronddam
'n Leser wou weet hoe om 'n kleinerige gronddam te seël, sonder om sement te gebruik. Die raad wat aangebied is, is dat 'n paar sakke bentoniet (Engels: "bentonite") die ding behoort te doen. Dit is 'n tipe klei wat baie uitswel as dit nat word. Jou koöperasie behoort vir jou te kan bestel. Werk dit net goed deur met die grond in die dam. As dit te duur uitwerk, sal 'n laag kleigrond egter ook help.
Eric Prinsloo, op Landbouweekblad se elektroniese gespreksforum.

Verdryf heuningbye goedkoop
"Ek het baie las gehad van bye wat in ons huis wil intrek, maar 'n boereraat is al wat help. Plaas 'n blikkie met Jeyes Fluid so na as moontlik aan die bye. Die reuk, veral onder die warm sinkdak, laat die bye ná 'n paar dae trek. Ek het selfs in die garage, waar hulle nes wou maak, 'n bietjie Jeyes Fluid op die vloer gegooi en hulle is weg. Ek hoop dit werk vir ander mense wat ook nie die bye wil vernietig nie."
J.P.L. van der Walt, Marble Hall.

18 Oktober 2004