Perskeblare wat help om wonde te genees en kunsmis om vlieë in die stal te bestry, is vandeesweek se praktiese wenke wat werk op www.landbou.com.
Behandeling vir wonde
Perskeblare kan help om wonde te genees, veral wanneer perde snywonde opdoen. Kook 'n pot vol perskeblare in water en was die wonde twee tot drie keer per dag met die ekstrak. Die wonde sal toegroei asof dit met steke aanmekaar geheg was.
G.W. van Niekerk, Merriman
Vlieë in die kraal
Vlieë in 'n kraal kan bestry word deur kunsmis bo-op die mis te strooi. Gooi dieselfde hoeveelheid uit as vir 'n grasperk. Herhaal sodra die vlieë weer uitbroei. Enige kunsmis kan gebruik word, maar superfosfaat werk goed.
Deon Stander (dstander@medunsa.ac.za)
Opblaas
Meng 'n handvol sout op 'n bottel water. Gee in en hou die dier se kop hoog sodat die winde kan opbreek. Gee daarna 'n halwe bottel roulynolie in.
D.A. Swart, Lydenburg
Seer-oog van 'n bees
Voordat die moderne beesmedisynes beskikbaar was, het ons die seer-oog van 'n bees met bitterappel behandel. Dit is 'n struik wat vrugte van ongeveer 30 mm in deursnee dra. As dit deurgesny word, lyk dit soos 'n tamatie.
Om die oog te behandel word die ryp (geel) vrug middeldeur gesny en van die inhoud, pitte en al, in die oog uitgedruk. Dit brand, maar dit werk! Slegs een behandeling is nodig.
Bitterappels groei dikwels sommer langs die kraal, wat dit nuttig maak om die dier sommer gou-gou te behandel.
Mev. M. Ferreira, Groblersdal
Bloutong
1 teelepel droë kerrie in die bek.
Ou boervrou se rate
Pêrel op die oog
Beeste kry soms so 'n wit pêrel op die oog wat veroorsaak word deur 'n mot wat snags op die beeste se oë sit. Dit veroosaak dat die dier ná 'n tyd blind word. Gooi twee druppels silwernitraat in die oog, maar wees baie versigtig: Nét twee druppels, anders kan die dier blind word. As die pêrel ná twee weke nog nie weg is nie, herhaal die behandeling: Dié keer met net een druppel. Moet nie 'n derde keer herhaal nie.
Deon Stander (dstander@medunsa.ac.za)
Perde-papies
Sodra bemerk word dat 'n perd na sy pens skop en gaan lê en rol, kyk na sy pens. Neem 'n halwe eetlepel Coopers-dip, gooi wynsout op en gee so droog in die perd se bek.
Ou boervrou se rate
Soetwyn vir koliek
Wanneer 'n perd koliek kry, dien 'n bottel soetwyn toe, liefs deur middel van 'n maagbuis. As 'n maagbuis egter nie beskikbaar is nie kan dit of deur die bek, maar liefs deur die neus, toegedien word. Sorg moet egter gedra word dat die wyn nie in die longe beland nie.
G.W. van Niekerk, Merriman
Septiese wonde
As 'n dier 'n septiese wond het wat sukkel om gesond te word en moeilik is om skoon te kry, gebruik peroksied om die wond mee skoon te maak. Gooi dit op die wond sodat die sweersel uitkook. Spoel wond met Engelse sout-water skoon en gooi penissilien op. Herhaal tot die wond nie meer sweer nie. Dit duur gewoonlik 'n paar dae.
Deon Stander (dstander@medunsa.ac.za)
Blaargif
As 'n bees blaargif gevreet het, meng 'n halwe bottel asyn met 'n halwe bottel water en gee in, twee keer per dag. Hou die dier vir 36 uur weg van water af.
D.A. Swart, Lydenburg
Opblaas
1 Dessertlepel droë wyngemmer in die bek.
Ou boervrou se rate
14 Julie 2004
Instuur van wenke
As jy graag wenke wil indien, stuur 'n e-pos aan: webred@landbou.com, of klik hier.