Landbou
Praktiese wenke wat werk (6)


Bitterappel help vir vratte en pruimtwak beveg inwendige parasiete by vee.

Vratte
Jare gelede het my pa 'n Hereford-bulletjie uit Natal gekry. Ons het toe in die Vryburg-distrik geboer, en die bulletjie was vol vratte aan die nek en nekvel. My pa se raat was om die vratte met bitterappel te smeer. Ná 'n groot soektog is 'n klomp bitterappels gevind. Hulle is oopgesny en vir 'n week of drie het ek die vratte gesmeer. Ná 'n paar maande was die bulletjie se vratte weg.
Jervis Collen, Koster

Inwendige parasiete by perde
Trek 'n span pruimtwak op 'n bottel kookwater vir twaalf ure. Dien 'n bottel versadigde suikerwater (liefs deur middel van 'n maagbuis) aan die dier toe en na vyftien minute die bottel twak-ekstrak (wat natuurlik behoorlik gesif is). Hou die dier vir sowat twaalf ure dop en voer net hooi vir 36 uur. Die behandeling behoort toegedien te word nadat die dier vir twaalf uur nie voer ontvang het nie. Bogemelde dosis word aangepas by grootte en kondisie van die dier.
Wanneer 'n pruimpie twak, 'n mespunt aalwyn en 'n paar huisies knoffel gereeld daagliks aan 'n perd gevoer word, verbeter die glans van sy hare, en ek is van mening dat dit as gevolg van die uitwerking op die parasiete is.
G.W. van Niekerk, Merriman

Knoppiesvelsiekte
Sodra jy die knoppies gewaar, gee die bees die aand en oggend een lepel Dettol op 'n halwe bottel melk in. Dan hoef u niks verder te gee nie. Ná 4 dae sal die knoppe verdwyn.
Of, neem 1 teelepel bitter aalwyn, 1 teelepel blom van swawel, 1 koppie sout. Gooi alles in 'n bottel, vul met water en skud goed. Gee die bees dié mengsel in. Die bees wat knoppies het, kan ná 12 uur weer 'n dosis kry totdat knoppe weg is. Aalwyn kan net 1 maal bygevoeg word, want dit is goed vir bosluise. Dit maak nie saak of die bees dragtig is nie.
Mev. J.C, Walters, Vredenburg

Vratte aan beeste
Smeer vratte goed in met gouestroop of melasse. Herhaal tot vratte afval.
D.A. Swart, Lydenburg

Knopvelsiekte by beeste ('n Onfeilbare raat)
1 teelepel bitter aalwyn, 1 teelepel blomswawel, 1 koppie sout. Meng goed, gooi in 'n bottel water en skud goed. Gee elke bees 'n bottel vol in. Die beeste wat reeds knoppies het, kan na 12 ure weer 'n bottel vol inkry, totdat knoppies weg is. Gooi aalwyn net een keer in, dis goed vir bosluise.
Ou boervrou se rate

Beeste wat tulpe gevreet het
Gee 'n mengsel van 'n halwe bottel roulynolie en 12 bottels kalkwater, gemeng. Kalkwater is een eetlepel kalk op 'n halwe bottel water.
D.A. Swart, Lydenburg

Bek-en-klou-seer
Meng 220 g blouviterjoel met 18 liter water. Was vee se bekke en pote tot by die knieë daarmee. Die dier sal gou gesond word. Was die bekke ook binnekant daarmee.
Ou boervrou se rate

  • Landbouweekblad aanvaar geen aanspreeklikheid vir aansprake wat in hierdie wenke gemaak word nie.

    Instuur van wenke
    As jy graag wenke wil indien, stuur 'n e-pos aan: webred@landbou.com, of klik hier.

    27 Julie