Landbou
Wenwenk: Ontsmet melkstal goedkoop
JAN BEZUIDENHOUT

Die wenner van www.landbou.com se wenke-kompetisie handel oor die goedkoop ontsmetting van 'n melkstal. Die prysgeld van R500 vir Augustus gaan aan mnr. Danie van Rensburg van die Nuweplaas Boerdery in die Langkloof.

Hy skryf: "Dit gaan maar broekskeur met ons melkboere en ons bespaar waar ons kan. Hierdie wenk is om melkstalle te ontsmet. Dit kos maar deeltjie van wat die gekoopte produkte kos. Gebruik 'n halwe koppie ammoniak, 'n derde koppie asyn en twee eetlepels bakpoeier en meng dit met vyf liter water. Glo my, dit werk uitstekend, indien nie beter as die gekoopte produkte nie."

Die R500-prysgeld is elke maand op die spel vir die beste wenk. Stuur wenke aan: Wenke, Landbouweekblad, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Dit kan ook per e-pos gestuur word aan: webred@landbou.com. Lees van die vorige praktiese wenke op Landbouweekblad se webwerf.

1 September 2004