Die onderstaande wenk is in die Namibiese Landbou-unie se weeklikse e-nuusbreif gepubliseer.
Mnr. Günther Friederich het die volgende wenk vir ons gestuur: Sny 'n laaigraaf se band met 'n "anglegrinder" op sy loopvlak deur sodat twee "bakke" verkry word. Dit is 'n morsige werk, dra maar beskermende klere en beskerm die "anglegrinder" ook teen die gesmelte rubber.
Draai hierdie twee bakke om, verbind hulle losserig aan mekaar, dalk met 'n kort stuk ketting, en maak 'n haak-toestel. Die twee dele van die band kan langs mekaar of "offset" agter mekaar gekoppel word. Vir addisionele gewig het ek 'n nie te swaar yster bo-op vasgemaak.
Agter 'n trekker aangesleep, kry jy binne 3 tot 4 rondtes 'n skoon strook, skoner as met 'n swarthaaktak gesleep. Die gesnyde kante van die loopvlak ruk enige gras uit die grond uit en beweeg maklik oor klippe. Vir 'n bakkie as sleepvoertuig kan groot lorriebande ook werk, gebruik dan dalk nog 'n addisionele band voor of agter die twee oopgesnyde stukke. Ek het hierdie jaar, laat in die reënseisoen as die grond nog bewerkbaar is, my plaaspaaie en kampdrade met 'n skotteleg bewerk waar daar nie te veel klippe is nie.
So het ek die middelmannetjie se gras weggekry wat die bewerking met die bande vergemaklik.
22 September 2006