November is gewoonlik die maand wat mielieboere té min trekkers en implemente het om al die werk gedurende planttyd gedoen te kry.
Dit is dan ook dié maand wanneer lande geneig is om te waai a.g.v. sterk noordwestewinde wat 'n dag of twee ná swaar reën opsteek. Boere moet dan dikwels trekkers uit belangrike werk onttrek om lande te gaan losmaak om dié winderosie te keer.
'n Wenk wat baie help, is om ongeveer 30 tot 40 beeste dwars met die wind oor die land te jaag. Die beeste moet in bane van sowat 50 meter uitmekaar deur die lande stap. Dié versteuring van die grondoppervlakte help om die momentum van die waaisand genoegsaam te breek sodat die skade aan die jong plantjies gering is. Plantjies wat deur die beeste raakgetrap word, herstel baie vinnig. Só kan 50 ha in ongeveer 1 tot 2 uur teen die wind beskerm word sonder duur bewerkings.
24 November 2006