Landbou
Wenke om veldbrande te keer
NELSON ADAMS

Tien nuttige wenke om brand hierdie winter (en elke winter) te voorkom.

Die idee is om dit vir die vuur onmoontlik te maak om deur jou grens draad te brand. Elkeen sal maar 'n plan vir homself moet uitwerk watter een van die tientalle maniere by hom sal werk.

1. Moet nooit gras onder jou drade laat groei nie. As dit brand, moet die onderste paar drade vervang word. Gebruik onkruiddoder as dit moet.

2. Maak 'n behoorlike brandpad 20 tot 50 meter van jou grens af. Gras tussen die draad en die openbare pad moet so gou moontlik gebrand word.

3. Met elektriese heinings, forseer jou diere om hierdie strook tussen die brandpad en die draad behoorlik skoon te vreet, en hou dit skoon Spuit melassewater oor droë gras en kyk hoe vreet diere dit af tot in die grond. Dis nie nodig om te wag tot die gras droog is nie. Begin sommer vroeg en hou dit kort, dan bly dit groen en smaaklik.

4. In meeste gevalle sal dit nodig wees om 'n breër strook kaal te kry om wegholbrande te beheer.

5. Plant 'n meerjarige wintergras in stroke so wyd as moontlik al langs die grens. As jy bv. elke 50 meter so 'n strook het, kan jy die gras tussen-in vroeg laat afwei, of skoon brand. Groen stroke dien dieselfde doel as brandpaaie, met die verskil dat as dit eenkeer gevestig is, hou jou diere dit vir jou kort en groen die hele winter lank.

6. As bure saamwerk, kan hele distrikte so beskerm word met brandstroke tot 200 meter wyd.

7. As die gras eers begin droog word, is dit meesal veilig om stroke gras tussen hierdie brandstroke skoon te brand. Verliese kan beperk word deur eers die gras kort te laat afvreet voordat dit gebrand word.

8. Die belangrikste van alles, die dag as daar n vuur uitbreek, moet elkeen presies weet wat om te doen. As jy nie weet nie, klim in jou bakkie en ry weg. Meeste mense wat in veldbrande seerkry, word oorval deur rook, nie deur die vuur nie.

10. Moet nooit brand as daar die geringste wind is nie.

Ek is nie 'n kundige nie, maar op my ou grondjie van 100 ha in Natal moes ek 11 km brandpaaie maak. Teen R2,50 per meter en 5 meter wyd, was dit 'n aardige klomp geld. Om brandpaaie dood te spuit in Januarie en dan skoon te brand voordat die gras doodryp, is maklik, maar, o wee, die onkruid in die jare daarna is verskriklik. Ek kan getuig van die plesier om jou bure te koggel as hulle brandpaaie maak en jou wintergras (lewensgras en wit klawer) staan kniehoog, grasgroen.

  • Geskryf deur Nelson Adams ( nelsonadams@telkomsa.net) op die gespreksforum.

    7 April 2007