Een van die gewildste landboupublikasies, Meganisasiegids, is weer beskikbaar.
Die 2007-uitgawe verskyn vanjaar die agtiende keer, sê die samesteller, mnr. Koos le Roux, 'n bekende landbou-ingenieur van Pretoria.
Die gids is só saamgestel dat die verskillende trekker-implement kombinasies se koste afsonderlik en gesamentlik van die tabelle afgelees kan word in rand per uur of rand per hektaar. Op die een bladsy word die koste in rand per uur verskaf en op die teenoorstaande bladsy word die koste in rand per hektaar verskaf.
Vir elke trekker-implement kombinasie word die brandstofverbruik in liter per uur of liter per hektaar aangetoon. In 'n volgende tabel word die brandstofverbruik in rand per uur of rand per hektaar aangedui. Verder word ook die werktempo van die trekker-implement kombinasie gegee in hektaar per dag of ton per dag of km per dag.
Voorbeelde van hoe om 'n meganisasiebeplanning aan te pak en ook om 'n kostevergelyking op to stel, word vir die gebruiker ingesluit. Die boek is dus 'n nuttige hulpmiddel in die hande van die boer om die koste van meganisasie to bereken.
Boere is steeds die grootste groep gebruikers van die Meganisasiegids. Ander mense wat die gids gebruik, is landbou-ekonome wat konsultasie werk doen, wat werksaam is by verskeie staatsdepartemente, agri-besighede en handelsbanke en verkoopslui by verskeie trekker- en implementhandelaars.
12 April 2007