Hier is 'n waterpomp wat goedkoop werk, want dit pomp water met water. Die waterpompe wat deur ZM Pompe van Johannesburg van Brasilië ingevoer word, is ideaal vir veeboere of landbouers met 'n klein stukkie besproeiingsgrond. Dit pomp die water met behulp van 'n waterwiel.
Die pomp word by die waterbron geïnstalleer, soos 'n stroom of rivier, waaruit water ook aangelê moet word om die waterwiel te laat draai. Deur 'n straal water op die waterwiel se vinne te spuit, draai die wiel wat die pomp aktiveer en, siedaar, dit pomp water.
Die suigkrag is doeltreffend tot so ver as 60m. Na gelang van die pomp se grootte kan dit water 7 m hoog vertikaal pomp. As die water meer as 5 m vertikaal gelig moet word, word 'n eenrigtingklep aangebring. Dit kan water ook teen 'n skuinste tot 300m bokant die waterbron pomp en horisontaal tot 12 km ver. As die water meer as 70 m gelig moet word, moet 'n groter wiel geïnstalleer word.
Mnr. Frikkie Combrink van ZM Pompe sê die waterwiel se draaitempo word bepaal deur die posisie van die straal water wat die wiel aandryf. Die ideale plek is dat die water van bo af op die waterwiel val. As dít onmoontlik is, kan die straal water van regoor die wiel se middel af spuit of selfs op grondvlak, maar dan draai die wiel stadiger; net 8 tot 12 omwentelings per minuut. Die pompvermoë hang van die grootte van die pomp af. Die modelle wissel van die ZM 44 MAXXI wat 4 000 liter tot 10 000 liter water per dag pomp, tot die ZM95-model wat 40 000 liter tot 90 000 liter water per dag kan pomp.
Die pomp kan selfs op 'n vlot in 'n rivier of waterstroom aangebring word. Die vloei van die stroom laat die wiel draai om die water uit die stroom te pomp.
Landbouweekblad, 1 Februarie 2008