Landbou

Met dié motvanger, kompleet met windskermpie en sonpaneel, kon boere in die Karoo 'n onlangse motplaag bestry.
Soortgelyk
Gloeilampies: Motte se moses
Deur LUCILLE BOTHA

Motplae lei tot ruspes wat die Karoobossies, die vee se voedselbron, opvreet. Hierdie boer het met 'n blink plan vorendag gekom om lig - wat onweerstaanbaar vir motte is - te gebruik om dié plaag te bestry. 'n Lamp se aantrekkingskrag is onweerstaanbaar vir motte. Of dit nou 'n stoeplig, 'n kampvuur of jou motorligte is, waar daar lig is, sal daar onvermydelik motte wees.

Wetenskaplikes skryf dit toe aan fototaksis, oftewel 'n organisme se outomatiese beweging nader aan of weg van lig.

Mnr. Joos Moelich, 'n skaapboer naby Williston, is bekend daarvoor dat hy nie sommer iets koop as hy dit self kan maak nie. Op sy plaas De Ganna is reeds allerhande vernuftige patente en uitvindsels waarmee hy die lewe vir homself en sy vrou, Magda, sommer aansienlik makliker maak.

Van tyd tot tyd is daar motplae in die Karoo en Moelich het begin kopkrap oor maniere om dié probleem nekom te draai. Getrou aan sy aard het hy in die huis en op die werf begin rondkyk vir onderdele en toerusting wat ingespan kon word.

Hy het 'n eenvoudige toestel met drie gloeilampies ontwerp.

Die boonste gloeilampie trek die motte aan, en die tweede en derde lampies lei hulle tot in 'n tregter waar hulle gedwing word om in so 'n nou spasie te "warrel"dat hulle inmekaar vasvlieg en na benede stort om in 'n groot, donker sak te land.

Hoe digter die motmassa wat na die tregter getrek word, hoe doeltreffender werk dit.

Tydens een van die motplae het hy sowat 4,5 kg motte in een nag gevang. Kort nadat hy die motvanger begin gebruik het, was dit vir hom interessant om te probeer vasstel hoeveel motte in die sak beland. In 2004 het hulle 15 kg, oftewel 52 liter, motte op een plek gevang. Hy meen dit was ongeveer 4 miljoen motte!

Die motte word in 'n voersak binne-in 'n donker sak, soos 'n plastiekvuilgoedsak, gevang.

Moelich het 'n ou weermagsak ingespan vir dié takie. "Jy kan egter enigiets gebruik. Ek gebruik dié sak, want ek het dit gehad," sê Moelich.

Sy enigste wenk is dat die sak donker moet wees en geen lig deurlaat nie. As daar lig deurskyn, sal die motte ook om die sak koek en nie deur die lampies in die tregter gelei word nie.

Deur die weermagsak met 'n streepsak uit te voer, is dit maklik om van die motte ontslae te raak en die buitesak word nie vuil nie.

Die binnesak kan toegebind en aan die brand gesteek word, of daar kan gif in gespuit word. Moelich sê gewone vlieëgif werk uitstekend.

Moelich gebruik energiebesparende gloeilampies van sowat 10 W. Die boonste lampie dien as "magneet" vir die motte. Hy het al met blou gloeilampies geëksperimenteer, maar meen die konvensionele neon-lampiewerk die beste - hoe geler die lig, hoe doeltre.ender is die toestel, meen hy.

Ongeveer 500 mm onder die boonste lampie is nog 'n lampie. Dié lampie moet die motte in die tregter lok. Moelich het die tregter uit 'n ou koeldrankbottel gemaak.

Uit die tregter se tuit, en binne in die sak, hang nog 'n lampie. Dit help, saam met die deurskynende tregter onder, dat die motte in in die sak bly.

"As hy eers binne is, is dit verby. Daar is nie 'n manier dat die mot weer kan uitgaan nie," sê Moelich.

Die hele toestel hang aan 'n raamwerk wat hoofsaaklik uit ou oliedromme (swart geverf) en 'n driepootstaander uit afvalpypies gemaak is.

"Nadat ek die toestel gemaak het, het ek omtrent elke uur opgestaan om te kyk hoe dit werk. Dan het ek maar veranderings gemaak waar dit nodig was."

Benewens motte, het Moelich ook al groot sprinkane, skoenlappers en vrugtemotte met dié toestel gevang.

"Jy kan enigiets wat na lig toe sal kom, hiermee vang," vertel hy.

"Maar dit kan nie voëls beseer nie."

Moelich reken ook dié manier om motte uit te roei sonder gif sal ook suksesvol wees by teeplantasies en in mielielande.

As jy 'n motvanger êrens in die veld wil staanmaak, het Moelich al 'n klompie motvangers vervaardig wat deur sonkrag aangedryf word. Dan voeg hy 'n sonpaneel en 'n 12 V battery by die toestel.

"Jy kan dit baie goedkoop maak, want die lampies trek baie min krag. Jy hoef dit ook nie die hele jaar te gebruik nie,maar net as daar 'n klomp motte uitbroei."

Die toestel sal nie verstop nie. 'n Mens kan die hele nag deur motte daarmee vang. "Jy kan die motplaag net tot 'n mate probeer bestry. Ek sal dit nie kan uitroei nie, maar sal die motte kan verminder."

Die motte beskerm hulself ook deurdat daar baie weersituasies en fases in hul ontwikkeling is wanneer hulle nie in massas na die lig toe kom nie.

'n Ander toevoeging tot sy toestel het 'n klein windskermpie van fyn gaas. Dit is met 'n draaipunt aan die motvanger gemonteer. Die windstroom wat dit genereer, dryf letterlik die motte na die lig toe, keer die wind weg en laat die motte dan in die tregter val.

Sy motvanger by die huis is aan 'n dag/nag-skakelaar gekoppel en gaan outomaties saans aan. Só kan hy en Magda rustig braaivleis hou sonder om deur motta gepla te word.

Landbouweekblad, 18 April 2008