
Hy was keelvol vir lammers wat in voerbakke klim. Boonop was die vermorsing wanneer die voerpille nat reën ook vir mnr. Hannes Esterhuyse van die plaas Sandtuin naby Williston een te veel.
Esterhuyse se lewensfilosofie is dat wanneer iets self gemaak kan word, mag dit nie gekoop word nie. Om die probleem met die voerbakke - wat gewoonlik ou, omgedopte motor-buitebande met 'n plaatbodem is - op te los, het hy sowat vier jaar gelede self met die antwoord vorendag gekom.
"Met die heersende droogte in die Wes- Karoo was ek maar deurentyd aan die planne maak om die voer van skape so maklik, goedkoop en doeltreffend moontlik te probeer doen. Ek het reeds 'n paar jaar gelede kruiphokke met baie groot welslae begin gebruik," vertel hy oor sy boerdery.
"Iets het egter geskort in die kruiphok - 'n doeltreffende selfvoerder teen 'n bekostigbare prys."
Die motorband-voerbakke het goed gewerk, maar 'n paar ernstige tekortkominge het Esterhuyse bly pla.
"Die lammers het in die bakke geklim en in die voer gemis en dan wil hulle dit nie N vreet nie," sê hy.
Ander hoofbrekens was dat die veevoerpille binne 'n dag "vaal gebrand" word deur die fel Karoo-son. Dit het veral in kampe gebeur met twee suipings, want die skape bly soms vir 'n dag of twee by een waterpunt. Die pille bly dus nie vars nie. Esterhuyse het ook nie van die onnodige vermorsing gehou wanneer 'n onverwagse reënbui oor vol voerbakke uitsak nie. Voëls sien ook die voerbakke as 'n lekker spens waar hulle gereeld kom smul.
"My voerder is dus uit nood gebore. Ek was op soek na 'n patent wat die lammers se voete uit hul kos hou, die pille vars hou en in die geval van reën, verliese so ver moontlik beperk," sê hy.
Dit is 'n algemene gesig in hul omgewing dat boere gaatjies onder in 'n ou drom maak en dan die drom op 'n vragmotorband vasmaak. Dié selfvoerder-patent werk goed,maar dit het Esterhuyse nog nie tevrede gestel nie.
"Dit is 'n groot, lomp, lywige stuk ding. Boonop lê te veel pille nog buite en word hulle dan aan die son en reën blootgestel." Daar bly ook altyd 'n persentasie van die pille in die drom oor wat oud en onsmaaklik raak."
Om dié swaar drom om te keer en skoon te maak, is nie 'n maklike taak nie.
"In die geval van reën is die verliese groot omdat 'n groot hoeveelheid pille reeds uit die drom en in die voerbak is."
Hy het bietjie kopgekrap oor die patent en besluit daar is tóg verdienste in, dit kort net 'n paar aanpassings.
"Ek het die patent omgedraai en in plaas van die pille na buite te voer, is 'n tregter in die drom geplaas en die pille na reg onder die drom in 'n motorband-voerbak gevoer," verduidelik hy. Dit het so te sê ál sy probleme opgelos.
'n Spasie van sowat 200 mm word tussen die drom (sommer 'n ou oliedrom, hoewel dit deesdae nogal moeilik is om in die hande te kry) se onderkant en die motorband-bak se bokant gelaat. Die lammers kan dus nie inklim en hul voer bemors nie.
Dié opening is verstelbaar, maar volgens Esterhuyse is 200 mm die ideale grootte.
"Dit is groot genoeg vir die groter skape, en klein genoeg sodat die lammers nie kan deurklim en in die kos mors nie.
"Hoe kleiner daardie opening, hoe minder pille lê in die bak. Die ideaal is dat daar so min as moontlik pille in die bak lê en die lammers die pille as't ware uit die tregterpyp vreet," sê hy.
Só bly die pille ook altyd vars. En aangesien die pille onder die drom gevoer word, is dit vir 'n groot deel van die dag in die drom se skaduwee en sodoende beskerm teen die son.
"Ek probeer dus om die tregter só te stel dat daar so min moontlik pille in die bak is. In die geval van 'n reënbui is die verlies nie so groot nie. Die uitvloei van die pille kan ook heeltemal gekeer word met die verstelbaarheid van die tregterpyp indien reën voorspel word.
Die voerbak kan nou heel leeggemaak word en sodoende enige verlies van pille verhoed."
Esterhuyse sê sy vernuftige patent se geheim lê in die tregter. "Ek maak dit deur 'n plat yster van 25mm x 3mm rond te buig in die binnekant van die drom. Hierdie ring word dan deur 4 stukkies plat yster van 25mm x 3mm x 250mm aan 'n 101,6 mm-pyp van 300mm vasgesweis."
Dit word met fyn ogiesdraad oorgetrek en uiteindelik met glasvesel bedek. Om die pyp kom 'n groter, los pyp om dit in die bak verstelbaar te maak.
"Dit is nogal moeite, maar dan het jy minstens 'n duursame patent," sê hy.
Die tregter word onder in 'n ou drom vasgesweis en drie bene (40mm x 40mmx 3mm hoekyster) word aan die drom vasgesweis. Die motorband-bak word hieraan vasgebout.
Die gesegde dat as jy vandag spaar, sal jy môre hê, het beslis op Esterhuyse betrekking. Die oliedrom se bodem en deksel word nie weggegooi nie, maar vir die motorband-bakke se bodems ingespan. Dit werk goed op 'n gewone 356 mm-band wat aan die een kant oopgesny, maar nie omgedop is nie. Die plaat kan net bo-op vasgebout word.
"Vir die bak werk 'n omgedopte 215mm x 381mm-band die beste. Die 381 mm-band gee daardie ekstra bietjie vreetspasie bo die 356 mm-band. Bande wat breër is as 215 mm maak die bak te diep en maak dit moeilik vir klein lammertjies om die pille by te kom," verduidelik hy.
Hy kla dat sy selfvoerder wel één beperking het, en dit is 'n gebrek aan vreetspasie.
"Ek het egter al ongeveer 100 lammers in een trop met 'n voerder gevoer. Dit beteken maar net dat die voerder meer gereeld volgemaak moet word. Die drom hou ongeveer 120kg tot 130kg pille."
Esterhuyse sê daar staan meer as tien van die selfvoerders in Sandtuin se skaapkampe. Dié nuttige patent het sy lewe aansienlik makliker gemaak - teen 'n skrale R160 per drom. Dit is al wat die materiaalkoste (die drom uitgesluit) hom uit die sak jaag, sê hy. Hy moes al talle van die selfvoerders vervaardig en sit dit teen R450 van die hand.
Was dit moeilik om dié patent te ontwerp?
"As jy weet waarnatoe jy werk, is dit nie moeilik nie. Ál wat nogal moeilik was, was om die afstande en hoogtes en die grade waarteen die tregter afloop, reg te kry."
Landbouweekblad, 2 Mei 2008