Landbou

Die nuwe Landini Technofarm-trekker van 43 kW is 'n meerdoelige liggewigtrekker.
Soortgelyk
Nuwe modelle om reeks te vul
Deur ANDRIES GOUWS (agouwss@landbou.com)

Twee nuwe trekkerreekse van altesaam vyf modelle het pas op die mark gekom om te voorsien in die groeiende vraag na kleiner trekkers vir ligter take. Hulle is veral geskik vir die meganisasiebehoeftes van opkomende boere. Die mark vir kleiner trekkers met ekonomiese werkverrigting wat in beknopte ruimtes rats kan werk, is aan die groei. Daarom het Landini besluit om openinge in sy trekkerreeks met vyf modelle aan te vul wat uitstekend in dié segment van die mark se behoeftes kan voorsien, sê mnr. Callie Human, verkoopsbestuurder van Landini, 'n filiaal van Argo.

Die Landini Technofarm60 en 75 is veeldoelige liggewigtrekkers van onderskeidelik 43 kW en 50 kW wat onderskeidelik deur 'n drie- en 'n viersilinder-Perkinsenjin aangedryf word. Dit ontwikkel maksimum wringkrag van onderskeidelik 222 N.m en 273 N.mteen 1 400 r/min.

Al twee die modelle is met twee- en vierwielaandrywing beskikbaar, het 'n ratkas met 12 versnellings met wisselskakeling vorentoe en tru, en is toegerus met 'n ewenaarslot agter. Die kragaftakker werk teen 540 r/min. en het ook 'n ekonomiese instelling van 540 r/min. gekoppel aan die werkspoed.

Die Technofarm 60 is 3,87 m lank, 1,6m hoog en 1,7m wyd met 'n grondvryhoogte van 367 mm. Die Technofarm 75 is 3,99mlank, 1,59mhoog en 1,8mwyd met 'n grondvryhoogte van 367 mm. Al twee modelle het 'n draaisirkel van 3,5 m met remhulp.

Hoewel die modelle ten opsigte van kraglewering na aan bestaande modelle is, is hulle ligter, smaller en ratser in klein ruimtes. Dit maak hulle veral bruikbaar vir werk in wye boorde, vir veeldoelige werk en vir kleinboere, sê Human.

Die trekkers kos onderskeidelik R197 500 en R217 500 vir die modelle met tweewielaandrywing en R213 750 en R237 500 vir die modelle met aandrywing in al vier wiele.

Die ander drie modelle is kompakte trekkers wat veral geskik is vir ligtewerk in knapplekke. Hulle kan met welslae gebruik word vir skoffelbewerking tussen bome en selfs tussen mielierye. Die trekkers is ook beskikbaar met grasperkbande vir gebruik op gholfbane en sportvelde. Die groter model kan 'n mens toerus met 'n laaigraaf en slootgrawer.

Al drie die modelle is beskikbaar met permanente vierwielaandrywing en hidrostatiese aandrywing.

Die Landini Compact 2840 word deur 'n viersilinder Mitsubishi-enjin aangedryfwat 21 kW opwek en het 'n onafhanklike kragaftakker wat teen 540 r/min. werk. Dit het 12 versnellings vorentoe en 12 tru met 'n gesinchroniseerde heen-en weer-wisseling en 'n meganiese ewenaarslot agter wat met die voet in- en uitgeskakel word. Die driepuntstelsel van die trekker kan 1 188 kg oplig.

Dié trekker is sowat 1,1 m wyd, het 'n grondvryhoogte van 330 mm en het 'n draaisirkel van 2,56 m met rembystand. Die model met vierwielaandrywing kos R107 500 en met hidrostatiese vierwielaandrywing R117 500.

Die Landini Compact 3640 word deur 'n Mitsubishi-enjin aangedryf wat 29 kW ontwikkel. Die ander spesi.kasies is grootliks dieselfde as dié van die Compact 2840. Die model met vierwielaandrywing kos sowat R131 250 en met hidrostatiese vierwielaandrywing R140 000.

Die grootste van die drie modelle, die Landini Compact 4740, se Mitsubishi-enjin ontwikkel 36 kW en dié trekker het 'n ratkas met 16 versnellings vorentoe en 16 tru.

'n Kruiprat is opsioneel.Dié trekker se driepuntstelsel kan 1 250 kg oplig.

'n Laaigraaf en slootgrawer kan aan die trekker gekoppel word. Dié trekker is ook sowat 1,1mwyd en het 'n grondvryhoogte van 287 mm en 'n draaisirkel van 2,54 m met rembystand. Die model met vierwielaandrywing kos nagenoeg R152 500 en met hidrostatiese vierwielaandrywing sowat R165 000.

Landbouweekblad, 4 April 2008