Die grootste uitdaging vir die plaaslike pluimveebedryf is om, ondanks 'n voorspelde ongunstige bevolkingsgroei, steeds winsgewend te bly.
Die grootste uitdaging vir die plaaslike pluimveebedryf is om, ondanks 'n voorspelde ongunstige bevolkingsgroei, steeds winsgewend te bly.
Mnr. Jannie Maritz, OTK Voere se tegniese bestuurder: enkelmaagdierevoeding, sê plaaslik word bespiegel oor die invloed wat Suid-Afrika se verwagte ongunstige bevolkingsgroei op die pluimveebedryf gaan hê. Terwyl die wêreld se bevolking tans teen 1,3 % groei, word 'n ongunstige bevolkingsgroei van 0,1 % vir Suid-Afrika tot 2005 voorspel, wat na verwagting sal toeneem tot 1,0 % vir 2006 tot 2011.
Mnr. Maritz het op OTK Voere en Roche se pluimveesimposium by Midrand gesê pluimvee sal 'n beduidende rol speel in die wêreld se voedselrevolusie van 2000 tot 2020. Die pluimveebedryf groei wêreldwyd teen 'n vinniger pas as die ander lewendehawebedrywe. Tot 2020 word geskat dat die wêreldverbruik van vleis met 28,7 % sal toeneem, melkverbruik met 23,2 % en eiers met 30 %.
Mnr. Nell Wiid, Eggbert Eggs se besturende direkteur, het gesê in die toekoms sal die plaaslike eiermark krimp weens vigs, inflasie en veranderde kooppatrone, terwyl die verbruik na verwagting sowat 100 eiers per kop per jaar sal bly. Die plaaslike bedryf se enigste geleentheid vir groei is in uitvoer gesetel. Uitvoergeleenthede na China, Thailand en selfs Amerika bestaan, maar dit sal eiers van 'n goeie gehalte vereis, sê mnr. Wiid.