|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 03:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
'n Omvattende ondersoek is nodig om die gevolge van veranderende weerpatrone op die landbou in die volgende paar dekades vas te stel.
Prof. Roland Schulze van die skool vir biohulpbron-ingenieurswese en omgewingshidrologie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal het op die kongres van die KwaZulu-Natalse RPO gewaarsku dat daar nie meer net gepraat kan word nie. Daar moet vooruit beplan word. Hy sê die suiker- en bosboubedryf het reeds die dringendheid daarvan besef.
Hy sê die gevolge van aardverwarming gaan veranderinge op talle landbouterreine in Suid-Afrika teweegbring. Hy meen KwaZulu-Natal gaan die beste daarvan afkom en die Wes-Kaap die slegste getref word.
"Van twee dinge is ons seker die hoeveelheid koolstofdioksied in die atmosfeer gaan toeneem en temperature gaan styg. Dit op sigself het 'n ineengeweefde en ingewikkelde web van gevolge wat nie noodwendig net sleg is nie." Hy sê die groter konsentrasie koolstofdioksied verhoog fotosintese wat tot minder transpirasie en die behoud van water in plante lei. Terselfdertyd kan verdamping in die atmosfeer egter met tot 20 % verhoog.
Verhoogde temperature sal onder meer lei tot 'n verandering in plant- en oestye, 'n verskuiwing van gebiede waar gewasse sal aard, meer intense reën (maar minder reëndae), minder ryp om siektes en plae te bestry, 'n groter behoefte aan besproeiing en damme wat gemiddeld leër sal wees.
Schulze sê die verhoging in die temperatuur oor die volgende sowat 50 jaar gaan 2 tot 3 grade wees. Wat egter nog onseker is, is hoe suksesvol pogings gaan wees om wêreldwyd die hoeveelheid koolstofdioksied in die atmosfeer te verminder en die gevolge van aardverwarming teen te werk.
7 April 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24