Afgri pluk vrugte

 

Die landboudienste-groep Afgri het 'n toename in sy wesensverdienste per aandeel van 24,9 % aangekondig vir die ses maande tot einde Augustus vanjaar. Hy skryf dit toe aan besparings en 'n beduidende verbetering in die landbou-ekonomiese klimaat in dié tyd.

"Die groep pluk die vrugte van grootskaalse kostebesnoeiings vroeër in die boekjaar sowel as die verbetering in landboutoestande," sê mnr. Jeff Wright, besturende direkteur van Afgri. "Ons het verlede jaar begin met 'n program om ons vaste oorhoofse koste met R60 miljoen te sny en dit het resultate getoon in die afgelope ses maande. Nog 'n bydraende faktor was ons fokus op doeltreffendheid op bedryfsvlak."

Die wesensverdienste het geklim van 15,2 sent in 2005 tot 19 sent.

"Hierdie resultate is bereik ondanks 'n vermindering van amper 50 % in mielie-aanplantings vir die somerseisoen 2005/'06 wat 'n ongunstige invloed op produsente se verdienste en die logistieke dienstesektor gehad het. Sedertdien het ons 'n merkbare verbetering gesien met 'n gesonde herstel in die mieliepryse wat tot die verwagting van 'n normaler mielie-oes in die komende plantseisoen lei."
Inkomste van Afgri se bestaande bedrywe het met 11 % verhoog van R2,4 miljard na R2,7 miljard. Logistieke dienste het 'n afname getoon van 12,7 % weens die 48 % afname in graan wat deur Afgri se silo's ontvang is. Dié situasie behoort na normaal terug te keer in die komende seisoen.

Weens die koop van die Daybreak-hoenderaanleg het die produktesakedeel se verkope met 10,3 % vir voedsel en 7,9 % vir proteïen gestyg teenoor die vorige jaar.

Oor die onmiddellike toekoms sê Wright die tweede helfte van die boekjaar is tradisioneel beter as die eerste. Die verwagtinge word gesteun deur die verbetering in landbouvooruitsigte, 'n stewiger mielieprys en hoër aanplantings.

Landbouweekblad, 24 November 2006

0