|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Die leierskap in die georganiseerde landbou beïndruk hom nie, sê dr. Mohammad Karaan, voorsitter van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR).
Hy het op 'n boeredag van MGK oor die herontwerp van die Suid-Afrikaanse landbou gepraat en gesê die leiers binne die landbou het oud en stil geraak. "Hulle is goeie mense, maar kan nie meer vernuwe nie en die burokrate het oorgeneem. Nuwe leiers moet na vore tree en die jonger geslag moet die geleentheid gegun word om hul spore te verdien. Hulle kyk verder in die toekoms en kan die landbou weer jonk maak," het hy gesê.
Karaan het prontuit gepraat oor wat hy as leemtes beskou. Hy sê die landbou moet wegkom van die politieke slagveld af. "Die 50 000 stemme van boere is vir die Regering onbenullig en die landbou moet besef hy het geen politieke mag nie. Aanvaar dit en lê klem op die ekonomiese aspekte."
Hy sê daar is te veel woede in die landbou. "Hou op om kwaad te wees en fokus op die geleenthede. Die president wil hê ons moet kom met 'n plan om die landbou te laat groei en die landelike gebiede te laat lewe. Daar is nét geleenthede wat op ons wag."
"Dien ook die swart boere. Landboumaatskappye was in die verlede instrumenteel daarin om wit boere staan te help maak. Daardie selfde strukture moet ook nou die swart boere dien en help," sê hy.
Karaan het boere gewaarsku om nie te lieg of opportunisties op te tree met swart ekonomiese bemagtiging nie. "Bemagtiging is presies dit wat jy vir jou kind doen. Al wat nodig is, is om dieselfde vir iemand anders se kind ook te doen. Opportunisme kan die toekoms vir almal verydel. Ons het almal 'n deel in die onreg van die verlede. Sê jy is jammer en doen iets goeds vir iemand anders."
Hy sê hy is optimisties oor die toekoms van die landbou. "Die land doen goed en daar is geld te maak. Vra niemand niks, belê jou geld in die landbou en maak baie geld."
Landbouweekblad, 1 Junie 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24