|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Ofskoon Agri Oos-Kaap sekere voorbehoude oor swart ekonomiese bemagtiging in die landbou (AgriSEB) het, staan dié vereniging beslis nie apaties oor die kwessie nie, sê mnr. Cerneels Pietersen, voorsitter van Agri Oos-Kaap.
Hy het met Landbouweekblad gepraat na aanleiding van mediaberigte dat die organisasie "nee" vir AgriSEB gesê het.
Die derde AgriSEB-dokument is op inligtingvergaderings op Grahamstad, Humansdorp, Queenstown en Graaff-Reinet bespreek. Pietersen sê een van die besware van kommersiële boere in dié provinsie is dat die telkaart alle kommersiële boere, ongeag die grootte van hulle boerderye, oor dieselfde kam skeer. "Daar word nie voorsiening vir klein en medium-ondernemings gemaak nie."
Hy sê hoewel sommige boere op die vergaderings emosioneel oor die saak was, het realisme geseëvier. "In sy huidige vorm is die jongste SEB-dokument nie vir Agri Oos-Kaap aanvaarbaar nie. Ons glo egter dat daar deur middel van verdere onderhandeling met die proses gevorder word."
Onder Agri Oos-Kaap se voorstelle aan Agri SA is dat alle belanghebbendes in die provinsie weer aan onderhandelings sal deelneem voor die finale mandaat vir implementering gegee word. Daar is ook gevra dat die telkaart op 'n glyskaalgrondslag vir onderskeidelik klein, medium en groot boerderye in werking gestel word.
Afgesien van vrywillige deelname aan landboutransformasie, sou Agri Oos-Kaap ook wil sien dat 'n handves oor landbouhervorming in oorleg met alle partye opgestel word. "Ons meen dat 'n redelike tyd moet verloop voor 'n kode van beste praktyke op die landbou van toepassing kan wees."
Volgens Pietersen is daar op die jongste vergadering met die minister se stuurkomitee begrip getoon vir die besware wat deur Agri Oos-Kaap en dié van ander provinsies geopper is, asook die uniekheid van die landbou. Die samesprekings was ter voorbereiding van 'n landbou-indaba wat op 6 en 7 Desember in Midrand, Gauteng gehou gaan word.
16 Desember 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24