|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Die AgriBEE-konsepdokument is die gevolg van 'n te stadige grondhervormingsproses. Die Regering hoop dat dié dokument, saam met grondbelasting, die proses sal versnel, het dr. Helena Dolny, direkteur van Standard Bank se landbou-afdeling, op die kongres van Agri Noord-Kaap in Kimberley gesê.
Een van die doelwitte van dié dokument is om meer grond oorgedra te kry. Tot Februarie vanjaar was 3,3 miljoen hektaar oorgedra. Dit is sowat 13 % van die mikpunt, of 4 % van ál die kommersiële landbougrond. As die doelwit bereik moet word, moet die koers van 1,3 % per jaar tot sowat 9 % per jaar verhoog word.
Hoewel die sukses moeilik is om te bepaal weens 'n gebrek aan inligting, het ondervinding gewys die beste resultate is behaal in gevalle van 'n uitkomsgerigte bestuurskontrak met plaaslike kommersiële boere daarby betrokke.
Oor grondbelasting het sy gesê dit is nie bedoel as inkomstebron uit belasting nie. Die doel is om mense te ontmoedig om aan grond vas te klou wat hulle nie gebruik nie. Dit het geen verband met ekonomiese of produksie-situasie op die plaas nie.
Die wet dui nie aan of die belasting op grond alleen of op die grond plus vaste verbeterings gehef word nie. Boere kan dus die geleentheid gebruik om daarop aan te dring dat die belasting net op grond gehef moet word omdat die koers op die ander opsie heelwat hoër sal wees. As belasting op grond én verbeterings gehef word, kan dit dus belegging in die landbou ontmoedig.
As vir 'n laer koers onderhandel word, moet aspekte soos dienste, die bydrae van die landbou tot werkverskaffing in die omgewing en die sosiale en ekonomiese welvaart van die plaaswerkers in aanmerking geneem word.
10 September 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24