|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Die daarstel van 'n handves vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou teen Maart volgende jaar hang af van hoe versoenbaar voorstelle met die Regering se kodes vir beste praktyk is.
Verskeie rolspelers het verlede week op 'n tweedaagse indaba in Midrand voorstelle gemaak om die AgriSEB-handves te finaliseer. 'n Resolusie is aanvaar om die konsepdokument as grondslag te gebruik vir finalisering van die AgriSEB-handves en -telkaart. Die stuurkomitee, wat bestaan uit bedryfsverteenwoordigers, is die taak opgelê om alle verdere werk te onderneem. Dié werk is onderhewig aan die vrystelling van die tweede stel kodes deur die Departement van Handel en Nywerheid. 'n Verteenwoordiger van die departement het op die indaba gesê dié kodes sal vandeesmaand die lig sien.
Dr. John Purchase, hoofbestuurder van Graan Suid-Afrika en een van die primêre landbou se verteenwoordigers op die stuurkomitee, het ná die indaba aan Landbouweekblad gesê bydraes tot die finale handves was "oor die algemeen goed." Hy het wel bygevoeg die uitdaging is om die voorstelle met die kodes te versoen. "Ons het 'n bietjie beweegruimte, maar as ons te veel afwyk, gaan die departement nie ons handves aanvaar nie."
Volgens hom moet die implikasies van die voorstelle ook deeglik verstaan word sodat dit nie lei tot onbedoelde gevolge nie. Hy het gesê 'n handves met haalbare telkaarte, sonder dat mededingendheid ingeboet word, moet die lig sien.
Mnr. Johan Dique, besturende direkteur van Senwes en ook 'n verteenwoordiger op die stuurkomitee, het gesê verdere werk lê voor in die interpretasie van die verskillende teikens vir ondernemingsontwikkeling en korporatiewe maatskaplike beleggings. Dique het gesê verwerkingsmaatskappye wil voorkeurverskaffing aan grondhervorming koppel omdat hulle meen nie genoeg swart graanboere bestaan van wie hulle graan kan koop nie.
Hy het dit as 'n "ontsnaproete" beskryf en gesê formele strukture, soos byvoorbeeld agribesighede, bly die grootste verskaffers van graan. Hy meen waar hulle bemagtig en die status van voorkeurverskaffer kry, kan verwerkers hul voorkeuraankope by hulle doen.
Mnr. Molefe Mokoene, uitvoerende hoof van Nafu, het gesê dié organisasie is in die breë tevrede met die voorstelle. Hy wel gesê die organisasie versoek nou dat "bemagtiging as 'n konsep meer tande gegee word" en dat hy dinge wil sien gebeur.
16 Desember 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24