Die spertyd vir kommentaar die nuwe konsephandves vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou (AgriSEB) is einde vandeesweek.
Agri Wes-Kaap het sy bydrae oor die besonderhede van die Agri SEB-dokument verlede week aan Agri SA oorhandig.
Mnr. Carl Opperman, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, het aan boere op dié organisasie se laaste streekvergadering op Worcester gesê dit is jammer daar gaan nie, soos aanvanklik ooreengekom is, kans wees om weer op grondvlak die veranderings in die dokument te bespreek nie.
Hy het aan Landbouweekblad genoem daar moet nog oor verskeie kwessies besin word. Dit sluit in die hoeveelheid geld wat voor en ná belasting vir swart ekonomiese bemagtiging bereken moet word. Voorts kan min van die plase aan die gelyke indiensnemingsbepaling van die konsephandves voldoen.
Volgens hom is die primêre en sekondêre onderwys van kinders nie die landbou se taak nie.
"Die lae geletterdheid van plaaswerkers lê ook hul ontwikkeling, soos die handves vereis, aan bande. Opleiding deur heffings word ondersteun. Die landbou kan nie vir die onderrig verantwoordelik wees of dit onderneem nie."
Ten opsigte van voorkeurverkryging, sê Opperman die lae winsgewendheid van die landbou dwing 'n entrepreneur om goedkoop aan te koop. "Sou 'n entrepreneur verplig word om net by sekere verskaffers te koop, kan dit tot sy finansiële ondergang lei met drastiese gevolge vir die landelike gebiede. In dié gebiede is 'n landbou-ondernemer dikwels op een verskaffer vir ál sy benodigdhede aangewese."
Kwessies van bestuursbeheer moet ook nog uitgepluis word.
Opperman meen die landbou het 'n rol te speel in die verligting van armoede, maar dat die staat besig is om sy verantwoordelikhede op die landbou af te skuif.
Volgens hom word die rol van die owerheid nie in die nuwe konsephandves uitgespel nie. Hy meen meer duidelikheid sal verkry moet word. "Min aandag word gegee aan die rol van derdevlak-regering, wat toenemend belangriker word."
Opperman sê die landbou meen voor hy in die proses betrokke raak, die regte kapasiteit, kundigheid en voldoende begrotings verkry moet word.
28 April 2006