Agterdog oor geheime grondplan

 

Die wrywing tussen die Regering en boere oor hoe grondhervorming gehanteer behoort te word, het verlede week nuwe hoogtes bereik. Die Regering wil onder meer hê boere moet 'n prys vir hul grond vra wat minder as markverwant is.

Dié inligting het aan die lig gekom in 'n besprekingsdokument vir beleidsformulering wat ná 'n geslote werksessie verlede maand opgestel is. Daarin stel amptenare van die Departement van Grondsake voor hoe grondhervorming bespoedig kan word.

Daarin word onder meer genoem dat die Regering moontlik 'n benadering moet nastreef wat die regerings van Zimbabwe en Namibië gevolg het. Ingevolge dié benadering moet die staat die eerste opsie kry wanneer 'n boer sy grond wil verkoop. Verskeie ander voorstelle vir 'n versnelling in grondhervorming word ook genoem.

Vir lank reeds is daar wrywing tussen sommige amptenare en boere met oor en weer beskuldigings oor die restitusieproses. Die amptenare sê boere vertraag die proses met onder meer uitgerekte onderhandelings. Aan die ander kant sê boere die Regering sloer self met grondhervorming omdat hy nie voldoende vermoë en kundigheid het nie.

In reaksie op die dokument, wat aan sommige lede van die media uitgelek is, het mnr. Glen Thomas, direkteur-generaal in die departement, gesê hy gaan nie kommentaar lewer nie omdat die dokument geen amptelike status het nie. "Dit is vir interne bespreking bedoel," het hy gesê.

Thomas het wel gesê hy "verstaan nie die bohaai" oor die inhoud van die dokument nie. Dit is glo omdat van alle lede van die stuurkomitee, wat gevorm is ná die Grondberaad verlede jaar en veronderstel is om resolusies te bespreek wat in beleid of wetgewing omskep kan word, verwag word om standpunte met hul onderskeie organisasies te bespreek en aan die komitee voor te lê.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri SA se grondsakekomitee, het by navraag gesê die Regering kan nie 'n afsonderlike, gelyklopende vergadering hê wanneer hy juis die stuurkomitee gevorm het sodat ander belanghebbendes bydraes kan lewer vir beleidsformulering nie.

De Jager sê Agri SA verwerp enige idee dat die staat voorkeur moet kry bo 'n koper as 'n boer sy grond wil verkoop. Hy sê as die Regering só 'n besluit deurvoer, sal dit nie net die grondmark nie, maar "die totale ekonomiese stelsel onder verdenking bring". Afgesien hiervan, is die kommer dat die staat bloot nie die vermoë of die bevoegdheid het om soveel transaksies te verwerk as hy die eerste koper wil wees nie, sê hy.

De Jager sê die amptenare wil hê boere moet 'n prys aanvaar wat minder as markverwant is. "Dit tas die grondwetlike reg van grondeienaars aan. Hoekom moet 'n grondeienaar 'n swakker prys aanvaar? Dit is 'n totale onhoudbare situasie. 'n Boer moet 'n prys aanvaar wat markverwant is — die Regering kan nie die prys bepaal nie. Ons is op 'n konfrontasie-pad met die departement."
Me. Ruth Hall van die Program vir Grond en Landelike studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland sê as die Regering wil betrokke raak in die grondmark sal hy meer doeltreffend moet wees om transaksies te verwerk. Sy sê 'n benadering waar die Regering homself die eerste reg op 'n transaksie toe-eien is nie 'n verreikende maatreël nie omdat die Regering reeds die mag het om grond te onteien.

Landbouweekblad, 27 Oktober 2006

0