|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Altesame dertien kleinskaalse forelproduksieprojekte word nou suksesvol in die Wes-Kaap bedryf.
Dié inligting is met die bekendstelling van die Hands On-akwakultuurprojek naby Franschhoek bekend gemaak.
Die projek is deur die Universiteit van Stellenbosch (US) se afdeling vir akwakultuur ontwikkel en word deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die private sektor ondersteun. Die doel daarvan is om die lewenstandaard van landelike gemeenskappe te verbeter en om Suid-Afrika minder afhanklik van invoer te maak.
Akwakultuur behels die produksie van vis, veral forelle en tilapia, in beheerde toestande. Bestaande besproeiingsdamme word hiervoor gebruik. Die projek is in 2004 begin met die daarstelling van vyf suksesvolle projekte. Verlede jaar het nog agt bygekom en 'n verdere 12 word vir vanjaar beplan.
Die jongste projek is Folbekkies Forelboerdery wat deur plaaswerkers van die Graham Beck-wynlandgoed buite Franschhoek vir eie gewin bedryf word.
'n Bemagtigingsprojek, Hands On Fish Farmers Co-operative, is pas bekendgestel. Lede word met die bedryf van die onderneming bygestaan en aanvangs- en bedryfskapitaal word beskikbaar gemaak.
Hulle het reeds 'n kontrak met 'n rookfabriek om jaarliks 200 ton forel te lewer.
Volgens dr. Danie Brink, hoof van akwakultuur aan die US, was dit 'n lang en opdraande stryd om akwakultuur te ontwikkel.
Aanvanklik was net diegene met toegang tot opleiding en kapitaal by die bedryf betrokke, maar daar is besluit om ook armes en werkloses in landelike gebiede te betrek sonder om bestaande markte te benadeel.
Boere was gewillig om hul private damme beskikbaar te stel vir varsvisproduksie en finansiële instellings het ook bygedra tot die sukses van die ondernemings. Absa en Standard Bank het hulle reeds daartoe verbind om die volgende fase van die bedryf te ondersteun.
13 Januarie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24