|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Grondeise vertraag Alexkor sakebedrywe
Die regsgeding tussen die staatsmynmaatskappy Alexkor en die Richtersveld-gemeenskap oor 85 000 ha kusgrond tussen die Oranjeriviermond en Port Nolloth behoort teen einde Junie iets van die verlede te wees.
Dié twis spruit ná die Grondeisehof in 2003 bepaal het dat die Richtersveld-gemeenskap geregtig is op hierdie grond wat ál die plase van Alexkor (afgesien van die plaas Beauvallon) insluit. Die Richtersveldse gemeenskaplike eiendomsvereniging eis egter ook die plaas Grootderm, waarvan Beauvallon 'n deel is.
Volgens mnr. Tebogo Mphuti, waarnemende direkteur van die Departement van Openbare Ondernemings, het mnr. Alec Erwin, Minister van Openbare Ondernemings, se ingryping in die onderhandelinge daadwerklik tot vordering bygedra.
"Daar is reeds 'n voorlopige ooreenkoms tussen die ministerie en die gemeenskap onderteken. Ons wag nou op die finale ooreenkoms wat tans deur Alexkor en die gemeenskap se verteenwoordigers onderteken moet word," het hy gesê.
Sodra die skikking afgehandel is, gaan die hofsaak geskrap word, sê Mphuthi.
Volgens hom sal Erwin alle besonderhede oor die ooreenkoms bekend maak sodra die finale ooreenkoms onderteken is.
Mnr. Nchakha Moloi, voorsitter van Alexkor, sê die uitgerekte grondeise hang nou al baie lank oor hul kop en het 'n nadelige uitwerking op sakebedrywighede en strategiese vooruitsigte.
"Dit is moeilik om in sulke onsekere toestande te werk en ons het die saak deurlopend onder die komitee se aandag gebring," het hy gesê.
Volgens hom benodig die maatskappy dringend geld vir eksplorasie (sowat R109 miljoen) en herfinansiering. Daarvoor sal die grondeis egter eers afgehandel moet word.
Altesame 70 % van die maatskappy se produksie is vanuit marienekultuur, terwyl landelike mynbou die afgelope paar jaar heelwat afgeneem het.
Moloi sê Alexkor het verlede maand vir die eerste keer diamante op die ope mark met gunstige resultate verkoop. Dit is voorheen slegs aan De Beers verkoop.
Volgens Mphuti gaan die Richtersvelders se betrokkenheid in die maatskappy se boerderyvertakkinge van volstruis, sitrus, melk, lusern en mielies by die finale skikking ingesluit wees.
12 Mei 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24