|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Die ANC-regering wil die kommersiële landbou verantwoordelik hou vir die stadige pas van grondhervorming. Dit is egter vreemd, want die ANC betoog teen homself omdat hy as regerende party oor die middele beskik om self die pas van grondhervorming te bepaal.
Dít is die reaksie van talle politieke partye ná die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party verlede naweek in 'n veldtog na die kantore van Agri SA in Pretoria opgeruk het. Daarby is verskillende optogte gehou wat gemik was op die kantore van plaaslike boere-unies en -verenigings regoor die land.
Die SAKP se veldtog is, volgens sy leiers, 'n beroep op die wit kommersiële landbou vir vinniger grondhervorming, basiese regte en dienste vir plaaswerkers en 'n nasionale grondberaad. Luidens 'n verklaring van die SAKP ondersteun die ANC, Cosatu en 49 ander organisasies sy veldtog.
Mnr. Andries Botha, die DA se woordvoerder oor grondsake, meen dit is jammer dat mnr. Smuts Ngonyama van die ANC nie die SAKP se "leuen" bevraagteken dat boere skuldig aan algemene mishandeling van werknemers en vroue in besonder is nie.
"Ngonyama moedig selfs die ANC se openbare verteenwoordigers aan om dié leuen te onderskraag deur aan optogte deel te neem. Die SAKP verwerp die amptelike markgerigte beleid van gewillige kopers en gewillige verkopers as die grondslag vir grondhervorming. Die kommersiële landbou word in plaas daarvan as sondaar uitgesonder en primêr vir grondhervorming verantwoordelik gehou."
Volgens mnr. Werner Weber, woordvoerder oor die landbou van die VF Plus, het sy party "met skok en ongeloof" kennis geneem van die ANC se voorneme om deel te neem aan die SAKP se Rooi Oktober-veldtog.
Weber sê die SAKP se optrede dien geen opbouende doel nie en dit is te bevraagteken of dit in landsbelang is dat "grondhonger" mense wat geen voorneme of vermoë het om produktiewe landbouers te word, hoogs produserende landbouers moet vervang.
19 November 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24