Annan wil in Ghana boer

 

Mnr. Kofi Annan, die voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN) en wnner van die Nobelprys vir vrede in 2001, is terug in sy geboorteland Ghana om te boer.

Annan se termyn by die VN het verlede jaar verstryk en hy het in Desember 'n uitgebreide werêldtoer onderneem wat onder meer Suid-Afrika ingesluit het.

Tydens sy plaaslike besoek het hy die Parlement toegespreek en onder meer Suid-Afrika geloof vir die ekonomiese weg wat die land baan in die strewe na 'n beter wêreld en bedeling vir ontwikkelende lande.

Hy het al voorheen benadruk dat "nuwe ekonomiese reuse", soos Suid-Afrika, China, Indië en Brasilië, die stryd binne die Wêreldhandelsorganisasie namens ontwikkelende lande vir vrye toegang tot markte lei. Volgens hom neem hulle ook die voorpunt vir 'n wêreldmark waar ontwikkelende lande op gelyke grondslag kan meeding.

Volgens die Regering se inligtingsdiens Buanuus, het Annan vanjaar onder groot applous en verwelkoming na Ghana teruggekeer vir sy aftrede asook om met sy planne om die landbou te betree, voort te gaan.

Hy het na berig word daarop gewys dat Afrika die enigste vasteland is wat nog nie 'n groen revolusie beleef het nie en dus nie homself kan voed nie.

Annan sê hy wil in die volgende fase van sy lewe met internasionale akteurs en Afrika-leiers saamwerk om "die landbou tot nuwe hoogtes" te neem.

Landbouweekblad, 23 Februarie 2007

0