|
|
|
| Bygewerk: | 17 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Fragmentering is een van die vernaamste faktore wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf keer om sy volle potensiaal te bereik, sê prof. Kader Asmal, die nuwe voorsitter van die SA Wynbedryfraad.
Volgens hom sal dié raad verskillende instansies en werksaamhede saamsnoer "om 'n verenigde liggaam daar te stel waardeur die wynbedryf sy mededingendheid kan bevorder". Hy sê dit kan die wynbedryf laat groei tot die ekonomiese hoogtes waar dit behoort te wees.
Asmal, 'n voormalige Minister van Onderwys en Waterwese en tans 'n parlementslid, het begin Oktober sy pos as voorsitter van die wynraad ingeneem. Dié instansie fokus op die bevordering van belangrike wynbedryfsaspekte, soos transformasie, en om verhoudings tussen die bedryf, die Regering en alle betrokkenes te stroomlyn. Dít word gedoen om die betrokke bedryf se mededingendheid en ontwikkeling in die plaaslike en wêreldmark te bevorder.
Asmal, met ondervinding in die wynbedryf as trustee van die Suid-Afrikaanse Wynbedryfstrust en gildelid van die SA Brandewynvereniging, sê die raad gee die bedryf die stukrag om wyntoerisme en generiese bemarking van wyn onder Suid-Afrikaners te doen.
"Met wyntoerisme en plaaslike bemarking wat nou deel is van die mandaat van die SA Wynbedryfraad verbind die bedryf hom tot twee nuwe groeipunte," sê Asmal.
Wines of South Africa (Wosa) sal verantwoordelik wees vir die implementering van hierdie twee funksies. "Dit moes al jare gelede gebeur het. Die aanvanklike ywerigheid om bykans uitsluitlik op uitvoer te fokus, was kortsigtig. 'n Sterk verteenwoordiging in die internasionale mark is afhanklik van welslae wat in die plaaslike mark behaal word."
Asmal sê die struktuur van die wynbedryfraad werk konsolidasie in die wynbedryf in die hand. "Die bekendstelling van 'n raadgewende forum sal verseker dat potensiële kwessies gehanteer word voor dit direkteursvlak bereik. Dit sal die organisasie in staat stel om gefokus te bly op mededingendheid en die markplek."
Die forum sluit verteenwoordigers van arbeid, die wynhandel, plaaswerkers, wynkelders en die burgerlike gemeenskap in.
Dr. Johan van Rooyen, uitvoerende hoof van die SA Wynbedryfsraad, sê Asmal sal 'n waardige opvolger wees vir mnr. Max Maisela. "Met sy onpartydigheid en internasionale invloed het Max 'n belangrike rol tydens die ontwikkeling van die wynbedryfsraad gespeel.
"Asmal se passie vir die wynbedryf, sy invloed op plaaslike en nasionale regeringsvlak, en optimistiese, energieke benadering tot die taak word deur die hele wynbedryf verwelkom."
Prof. Kader Asmal
Landbouweekblad, 27 Oktober 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24